Saturday, June 20, 2009

Johannesburg is vir Johannesburgers

Ek het nou die dag iets gelees oor wat hulle noem rusbank-reisigers. Dis mense soos ek wat reis en op vriendelike mense se banke slaap en dan verder gaan.

Nou, ons Kapenaars raak mos ongemaklik as ons meer as 100km van die see af. Ek was dus merkbaar op my senuwees toe my bra Die Digter my laat weet dis nie 'n Dronkwordspruit waar ek by hom gaan kuier nie, maar sommer by se broer se huis in Kemptonpark. Kempton is nie die tipe plek waar Kapenaars as 'n reel gaan vakansie hou nie.

Die Digter se broer bly in Esselenpark by die spoorweg universiteit. Dis waarskynlik die laaste vesting van die 80's en die laaste oorblyfsels van die ou NP-koninkryk. Die plek herinner my baie aan daai Overvaal parke (wat deesdae Aventura is) en is kompleet met die siersteenhuise met die leiklipdakke, soos wat dit die Spoorweg betaam. Die huis is almal gemeubeleer in die eg Verwoerdiaanse styl. Dis so The Jetsons-vibe. Die meubels is rond en die huis is skerp. Ek is eintlik dankbaar ek kan so min van die 80s onthou.

Dit was 'n heerlike kuier eintlik. Ek het selfs by tye vergeet dat ek so ver van die see af is, behalwe toe ons gaan wyn koop het en 99.8% van die wyn is soet. Gelukkig was daar heel agter in die winkel 'n spesiale rak vir Kapenaars en toe is daar bietjie droe wyn vir my. Die Digter se skoonsus se pot was heerlik en ons het lekker gesels.

Die Digter en sy wyfie het my aan die einde van die volgende dag gaan aflaai by OR TAMBO waar ek toe 'n First Car Rental kry en by my vriendin, die trouvrou reg in die middel van Mellville gaan kuier het. Haar stoep kyk uit oor Randburg en Sandton se torings versier - versuur - haar skyline.

Ek moes geweet het hier kom kak toe ons begin karre rondskuif in haar erf sodat die hijackers nie my First Car kan vat nie. Die tweede teken wat ek gemis het is daar haar kerel die varkfillet opmaak en hy gesels saam. Ek en haar kerel moes toe onmiddelik nog wyn gaan uitsmokkel uit die Bohemian, die nabygelee kroeg. Die trouvrou se inhouse sjef het toe 'n wonderlike dis uit hoender uit getoor en ons kon darem met vol mae en koppe gaan slaap.

Nog in ding van Jozi wat my irriteer is dat dit selfs in die winter 5uur lig raak. Oom Koos Myburgh het altyd gese dit maak nie saak hoe donker dit nog 10uur in die oggend is nie, dan moet 'n man darem begin dink aan opstaan. Jozi gun mens egter geen kans nie. 5uur is die lig, en dan ry almal onmiddelik werk toe (en begin dadelik kak emails vir ons in die Kaap stuur. Ek is party oggend so ontsteld dat ek nie my derde koppie koffie om 09h00 kan inkry nie).

Toe ek nou in die ware Jozi-manier 7uur wakker word en besef dat ek in iets soortgelyk aan Folsom Prison toegesluit is, toe trek my Kaapse bors op 'n knop en ek begin ly aan 'n erge geval van engtevrees. Ek storm toe by die trappe op en kry die stoep se sleutel in die hande. Ek kry met my bewerige hande en beklemde bors uiteindelik die stoep oop en stap uit en trek my longe van van Jozi se lug. Nou nie my favourite asemteug nie, maar te minste is ek uit die tronk.

Terwyl ek daar staan pluk die hele huis sy moer suur vir my en begin skel. Ek waa nog besig om jammer te se oor ek die huis ontstel het, toe kom hensop ADT my. Ek moes toe mooi beduie dat ek wou uit en nie wou in nie. Gelukkig het die Trouvrou darem kom se ek mag daar wees. En dit alles voor my eerste koppie koffie. Ek was baie bly toe ek terug is op daai groen errie af Kaap toe.

Dis rerig moeilik om ek te wees. Dit vat partykeer heel dag.

Wednesday, May 20, 2009

Naakte vrees

Ek is nie rerig 'n bang ou nie. Behalwe vir vleissae, om my naeltjie skoon te maak (waar kom daai wolletjies vandaan?) en kinders was daar tot redelik onlangs niks waarvoor ek bang was nie.

Maar die laaste ruk skrik ek snags in angs en bewing wakker, en dan moet 'n ek 'n moerse klomp tee drink en vervelige stories kyk om weer aan die slaap te raak. Ek het aanvanklik gedink dis miskien stres, want my pa le altyd so wakker as dit nie wil reen nie. My bra Hanru, die sielkundige, het my egter laat verstaan dat musikante nie rerig kan stres nie. Ons gee glo genoeg uiting aan ons gevoelens, of drink genoeg wyn of so iets. Ek het ook gewonder of dit nie miskien insomnia is nie, maar ek twyfel. Ek is te lui om aan iets te ly.

Anyway, nou die aand sit ek by my buurman en teug aan 'n wyntjie toe hy my vertel van die 27 Klub. Dis 'n lang lys van musikante wat dood is op 27. Robert Johnson, Kurt Cobain, Jimi Hendrix, Janis Joplin, Jim Morrison en Brian Wilson. Dis toe dat dit my tref: Ek word in Julie 27.

Maar dis nie net dit nie. 'n Moerse lot musikante is in vliegongelukke dood: Otis Redding, John Denver, Jiim Croce, Stevie Ray Vaughn, die helfte van Lynyrd Skynyrd, Buddy Holly, ricky nelson en jim reeves. Daar is ook 'n ellelange lys van musikante wat dood is as gevolg van alkohol. En ek hou van wyn drink op vliegtuie.

Soos wat dit is weet ek nie eers of ek 26 suksesvol gaan voltooi nie, benewens my motorongeluk, moes Ruannette die Engel 'n ambulans bel oor ek besig was om te dooi op haar troue, en ek het twee keer amper in my moer gebrand by my huis.

Nou wat as my engeltjies een dag, terwyl ek 27 is, strike? Die odds is duidelik teen my.

"It's not about the odds of dying. It's about the way you die. I've always said that I'm not dying with tourists." - actor Billy Bob Thornton

Thursday, April 23, 2009

Oor toustaan

Ek verstaan dat toustaan mode is in lande soos Engeland. As daar twee ouens per ongeluk in agtermekaar staan, sou daar 'n derde agter hulle inval, en voor jy kan se tou, is dit 'n volwaardige tou.

Toustaan in Engeland is niks soos in Suid Afrika waar jy kort-kort op jou horlosie loer, en dan sug en soms 'n gekruide woord uiter nie. Niemand kla daar oor "swak diens", "tipies Nuwe Suid Afrika" en so aan nie. In Engeland is toustaan 'n kultuur op sy eie, my sy eie etiket en hierargie.

As jy toustaan moet jy elke duim wat jou toegelaat word vorentoe staan, sonder om in die ou voor jou se aura in te beweeg. Jy moet wel oppas dat jy nie per ongeluk buk nie, wat die ou agter jou sal die spasie opneem, en so ook al die mense agter hulle en dan staan die hele ry naend gebuk. Niemand hou ook van die ou wat 'n gaping in die tou los sodat daar mense kan deurloop nie.

Die ou wat voor in die tou staan is soos 'n opperwese. Almal is jaloers op hom, maar eintlik bewonder hulle hom. 'n Ou wat al voor in die tou is, het duidelik lank terug in die tou begin staan, en nou, op hierdie laat stadium, is hy voor. Hy het as't ware die hoogste sport bereik in sy toustaanloopbaan. As jy die ou voor in die tou kan sien, dan geniet jy ook redelik status. Jy is weet dan duidelik waarheen jy oppad is, en jy is 'n voorbeeld vir die mense agter jou in die tou. As jy die mense kan sien wat die ou voor in die tou kan sien, is jy ook bitter belangrik. Jy is dan soos die werkersklas, die mense wat eintlik die tou aan die gang hou, en die ouens voor in die tou waardeer dit, want hulle weet dat sonder jou sou hulle prestasie niks beteken het nie.

Ek was een van daai mense wat nagelaat het om sy geweerlisensie te hernu. So bevind ek my in Paarl se polisiekantoor in 'n ry van baie mense. En niemand daar is i 'n goeie bui nie. Almal is kwaad vir die system en die blerrie Nuwe Suid Afrika. En in sulke lang tou, wat baie stadig beweeg ontwikkel daar gereeld sulke komplotte en sameswerings. Ek het baie van die gerugte begin net om te sien wat gebeur. Dikwels het my gerug totaal verdraai by my uitgekom.

Die gemoedstoestand van die mense gaan ook kollektief op en af. Daar is so geskerts, en dan raak die mense al hoe meer die moer in tot daar 'n stilte heers. Dan iewers sal iemand 'n grappie maak en dan begin die siklus van voor af. En so het dit vir al 8 ure wat ek in die tou was aangegaan.

Waar Suid Afrikaanse toue verskil, is hoe mense mekaar kom aflos in die tou, en hoe die tannies vir die ooms kos bring terwyl hulle wag.

My eie moer was redelik suur vir myself, want ek moes al 9 maande voor daai gewraakte dag (wat vir die Ingelse heerlik sou wees) my lisensie hernu het. Twee oomblik het my darem laat giggel. Daar was 'n oom so ent voor my wat sy moer duidelik gestrip het en uitgeloop het. So halfuur later was hy terug met so Pepstores kombers vol gewere. Hy het die bondel op die toonbank neergesit en diep geirriteerd vir die ou agter die toonbank gevra: " NOU WAT MOET EK MET DIE DONNIGSE GOED MAAK?"

Die ander was toe die couple met die pram uitgestap kom en iemand merk terloops op: "Maar hulle is mos sonder die pram hier in?

Monday, April 20, 2009

Die meeste mense is maar lekker zef

Op die rock&roll highway het ek al telkens besef, die lewe is klein bietjie fucked up. Valiant sing mos, die meeste mense is maar lekker zef, maar dis nie net dit nie.

Ons word almal groot, of so wil ek glo, met een of ander droom. Of jy wil 'n brandweerman word, of eendag kan vlieg, of in my geval, dieselfde kitaar as daai oom van Led Zeppelin he. Dit blyk egter, vir welke rede ookal, dat hierdie drome in die meeste gevalle vervaag en op die ou end opgaan in een of ander brandewynwolk. Ek wil graag glo dat die meeste mense nog steeds 'n droom het, al is dit bloot om 'n groter TV te koop, of om groter subs agter in sy Cortina in te bou. Vir my is dit 'n klomp kak drome, maar dit gee darem die lewe so bietjie rigting.

Daar is egter baie mense wat geen droom meer oor het nie, vir wie die lewe verbyvloei soos soos 'n nimmereindige rivier. Dis een van die goed waaroor ek en Etienne tot in die vroeg in die oggend rondom 'n bottel rooiwyn oor sit en wonder het. Ek kon nie verstaan hoekom mens wil opstaan as jy niks het om te doen nie, tot Landon la Grange my een oggend oor 'n koppie koffie beduie het, you know what KJ, 80% of people just wanna make a living. En toe het dit vir my begin sin maak.

Dikazzins was baie op die Weskus getoer. Maar ons laaste toer daarheen, seker omtrent twee jaar terug, het my sprakeloos gelaat vir die res van die week. Dit was 'n langnaweek aan die einde van Juniemaand. Die vissermanne was af en vol geld en dit het gereen. Toe ons laatmiddag die dorp binnesak, toe trap die hele dorp al hoog. Nou kyk, 'n brannewyndronk is mos 'n ander dronk. Jy is baie energiek, en baie bakleierig.

So paar insidente:

  1. Die polisie het die band twee keer halfpad deur die song gestop om die ergste fights te stop en die bakleiers selle toe te vat.
  2. Die bestuur van die venue het ons so keer of wat gevra om iets rustig te speel sodat die mense kan afkoel
  3. Ons het drie keer in die middel van 'n song gestop om ou wat met sy kop tot in die drumset geval het af te moer van die stage af, en die monitors, speakers en mikes weer regop staan te maak.
  4. Iemand het probeer om Charl se baskitaar te steel terwyl hy gespeel het.
  5. Iemand het geval voor die stage, en toe het iemand hom uit te bloute begin bliksem. Die ou wat aan't slaan was, het so effens belangstelling begin verloor en toe op sy meisie geskree wat kwansuis sy dop sou omstamp. Toe sy wegstaan van sy dop af, het het verder geslaan aan die ou onder hom.En om alles te kroon, was die twee so 10min later weer hard aan die kuier, salig onbewus dat hulle vroeer baklei het.
  6. 'n Ander kalant het handeviervoet langs die kroeg geval. Sy beste pel tree so drie tree terug en plant 'n netjiese uppercut op sy neus.
Ek en Etienne het die Sondag in stilte teruggery Stellenbosch toe. Ek dink ons was al verby Malmesbury toe ek vir die eerste 'n sagte "fokkit" ge-uiter het. Etienne het net sy kop geskud.

Saturday, April 18, 2009

Oom Maans se Roeping

Die kerkstories is eintlik snaaks. Klapmuts se kerk is moes so paar jaar terug gerestoureer word. Dit was hier in die vroee 80's met die droogte, so die gemeente het dit nie breed gehad nie.

Na 'n paar basare en so skuurdans of twee (my pa'le kon daardie tyd enige behoeftige uit die nood dans, en as hulle enkels eers lekker nat is, dan gaan dit soveel lekkerder) kort daar nog so los R 50 000 om die restourasie te voltooi. Die leraar van die tyd besluit toe dat mens nie 'n kerk kan regmaak deur middel van danspaarties nie. Hy bele toe 'n moerse biduur en die kerk.

Die aand bid die dominee droewig, en kort-kort as een van die gemeente nou begin skuldig voel, dan sal nou ongemaklik opstaan en iets se soos, dominee, ek voel geroep om so R500 te gee. Ag, en so het dit aangegaan.

Die eintlike doel van die biduur, en dit het almal geweet, was om vir Oom Maans te laat skuldig voel en te skenk. Want Oom Maans is van die Louw's en die Louw's was al die jare nog taamlike welgstelde mense. Maar Oom Maans het net stip voor hom uitgestaar - hy kan nie sy oe toemaak onder gebed nie, want hy raak duiselig na sy middeloorinfeksie van ses jaar terug. Die hele gemeente het later vir hom begin kyk, want hy kon as't ware die kerk op sy eie oordoen. Maar al wat gee is Oom Maans.

Op 'n kol, toe die dominee se droewige gebed weer so klimaks bereik, kom 'n stuk pleister los en val op Oom Maans se kop. Oom Mans staan toe so statig op en se, Dominee, ek voel geroep om darem so R15 000 te gee vir hierdie edele saak.

Ek verstaan dit was Oom Willie wat toe van agter uit die kerk af gebid het : O Heer, o Heer. Tref hom weer!

Oom Vaaljan en die sending

Die Bolandse platteland was 'n interessante plek om op groot te word. Ek was eintlik so op die rand van die Boland en die Swartland, met die een helfte van die plaas onder wingerd en die ander helfte onder koring.

Braaie was dus interessant in die sin dat die koringboere almal KWV en kouk gedrink het en die wingerdboere meestal wyn. Daar was dus gereeld allerhande onderstrominge en dan moes daar vervaard bidure gehou word en hard gepreek raak van die kansel af. Maar die kwaaivriendskap het gewoonlik nie die week oorleef nie.

Daar was wel 'n oom, Oom Vaaljan, wat soos my oupa telkens gese het, skuins teen die grond bedonnerd was. Die Agter Paarl was vol Janne, Oom Langjan, Oom Bruinjan, Oom Rooijan, Oom Jantooi (my oupa), Oom Jan Baadjiepunte, Oom Jan Testament, Oom Jan Baaipaas en Oom Jan Omkyk. Dis die dat my ma my Kaalvoet genoem het, en nie Jannie nie.

Maar, ek dwaal af, Oom Vaaljan het geweier om vir die sending te gee. Want hy gee nie vir mense wat plase afbrand en vee steel nie. Die kerkraad het dit maar later so aanvaar, want hy het wel ruim geskenk vir die armes.

Tot een oggend, toe my pa-hulle staan en basaargeld tel, stap oom Vaaljan in die konsistorie in en se dat hy besluit het om drie skape en 'n melkbees vir die sending te gee. Die dominee was natuurlik verheug oor dit en het dadelik verneem oor wanneer hulle die lewende hawe kan kom haal.

Nee se oom Jan, hulle het dit klaar kom haal gisteraand, dominee moet dit net deur die boeke sit.

Monday, March 30, 2009

Die Brandklub

EK hou nog steeds vol dat die beste stories van die Noordkaap af kom. Die stories was natuurlik almal op 'n kol waar, maar feite vervaag mos met tyd saam.

Daar was benewens die rolbalklub, die kommando en die boerevereniging, ook die Brandklub op Calvinia. Die brandklub het weekliks geoefen om brande te blus. Hulle sou gereeld regte brandweermanne kry om hulle bietjie touwys te maak met verskillende situasies, en dan die spul op die skougronde oefen met kammavure.

Gewoonlik daarna het hulle vergader in die hotel om verskillende logistiese kwessies te bespreek. Aangesien die klub meestal uit boere bestaan het was die eerste probleem natuurlik oor hom om almal te laat weet van die brand. Plaaslyne is dikwels onbetroubaar, en dit was voor die dae van selfone. Die tweede kwessie is die reaksietyd, want 'n bakkie kan ook net so vinning stap, en die paaie is nie orals ewe waffers nie. Die omvang van die probleem was natuurlik van so aard die vergaderings dikwels tot laat aangehou het.

Die manne se vrouens het natuurlik nie die storie van die Brandklub geglo nie, en soos wat vrouens nou maar is, die mans onmiddellik beskuldig dat dit net 'n verskoning is om te drink. So erg was dit later dat die manne begin wens het vir 'n brand, net om die vrouens te oortuig dat die klub wel meriete het.

Een Saterdagmiddag ontstaan 'n brand in die Poskantoor op Calvinia. Die posmeester bel toe dadelik die Brandklub se kantoor, die Hantamhotel. Die voorsitter van die klub, die kroegman, tel op en luister so rukkie voor hy opgewonde antwoord: "Ja, ja! Hou jy solank die brand aan die gang, ons kyk gou die rugby klaar, ons is nou daar!"

as sy eers begin rev

Ons het Sondagnag ons musiekvideo geskiet. Wat ek nooit besef het nie, is dat dit heel nag gaan vat, soveel so dat ek eers net na 5 by die huisgekom het. Ek het toe besluit dis beter om nie te gaan slaap nie.


Die trip na my werk toe was nogal moeilik, want ek het gesukkel om my oe oop te hou. BY die werk gekom het ek 'n oordosis kafeien ingeneem en kon tot 'n mate funksioneer. My mikpunt was om net wakker te bly tot 3uur toe, want dan kan ek heerlik slaap op my vlug Jozi toe.

Ek skat ons moes net so verby Laingsburg gewees het, toe die die dogtertjie agter my begin huil. Nou, kinders huil, ek verstaan. Wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom hulle nie kan blerrie ophou nie. Dis nie asof sy siek was, of haar ma haar kos gevat het, of iets nie. Sy het net gehuil. Ek het later begin glo sy het 'n persoonlike vendetta teen my.

Haar ma het moedig probeer om die bloedjie stil te kry maar helaas. Nes my hoop vir die ma se pogings begin opvlam, dan rev die dogtertjie weer. En as sy eers gerev het, weet ek teen Colesberg toe nou, dan hou sy nie op vir te minste 'n halfuur nie.

Ek het toe begin wonder oor dinge soos hoe hard ek haar kop teen die ruit moet kap voordat sy sal deurgaan. Ek het ook gewonder af ek haar deur die toilet se gaatjie sal kan pas. Ek wou ook Newton se twee wet toets deur die pilot te vra om afdraand te vlieg sodat die kostrollie kan spoed optel en teen die dogtertjie bots. Namate die wreedheid van my fantasiee begin toeneem het, het bietjie skuldig begin voel.

Ek begin toe iets meer prakties uitdink, soos of sy nie miskien kan gaan buitespeel nie, of miskien as ons haar in die overhead lockers bere tot in Jozi, saam met my skootrekenaar. Ek het selfs in my gedagtes aangebied om vir haar 'n storie op te sit.

En op daai oomblik, toe rev sy weer. Ek gryp redelik geirriteerd die Mangotydskrif, want dit blyk toe al duidelik dat solank as wat sy nie slaap nie, gaan ek ook nie mag slaap nie. Dis eintlik verbasend dat mense nie kan glo hoe Bob Mugabe die wereld so aan die eiers beet het nie, terwyl 'n dogtertjie wat nie eers ordentlik kan praat nie, 'n hele vliegtuig vol mense in haar mag het nie. Of die ma spesifiek na my verwys het, weet ek nie, maar sy se toe vir die dogtertjie, That man is very cross because he can't read, keep still now!!

Ek dink toe by myself, dame, my onvermoe om te lees is die minste van die probleem om die oomblik. Ek gaan nou ophou wonder wie om eerste dood te maak en net begin by wat reg voel, moontlik myself. Mango behoort sulke ma's te verplig om wyn te administreer, nie vir die kinders nie, maar vir my.

Ek sou daai dogtertjie net daar op die vliegtuig gelos het as ek die ma was (en ek dink ek het dit hard gese, want almal om my het begin lag, en die ma het die dogtertjie styf vasgegryp).

2008

Ek was kinderlik gelukkig toe Patience Maandagoggend haar nommer hier kom los het.

2008 was rerig 'n moeilike jaar vir my. Ek en my bra Franna het in 'n kothuis in Idasvallei ingetrek. Aan die begin was alles cool. Patience het ons huis kom skoonmaak elke nou en dan, en my niggie Lani het een keer 'n maand ons koskaste vol geshop met my kaart. Franna het toe nog op 'n wynplaas gewerk, so die wyn was volop, en diesel was teen 'n redelike billike prys beskikbaar. Hierdie hemel het teen Paasnaweek begin verbrokkel.

Die eerste insident was toe ek Paassondag, vetgevoer deur my moeder, by my huis aankom. Die oopgebreekte veiligheidshek het die malvapoeding vlak in my keel laat sit. Terwyl ek vir die polisie sit en wag het, het ek die lys van vermiste goedere begin saamstel. Franna se R99 toolbox, my soundcard, my Belgiese tjoklit, my hamer, twee halwe bottels sjampoe, 'n halwe pakkie suiker, wat ookal oor was van die Ricoffee, die eensame Black Label in die yskas, die kookvleis en my Banjo. My vermoede is sterk dat dit 'n vuil, honger klops wat bietjie DIY wou doen was.

Die week daarna is ons in Sunset Studios om Die Magtige Dreuning te record. Donderdag in die nanag, na 'n lang dag in die studio, en 'n noodrehearsel by Charl, kom ek moeg en vuil by die huis aan. Al wat ek wou doen is om koffie te drink, te stort en dan in myself aan die slaap te ween in my bed. Moedeloos moeg se ek jou. Ek sit toe die ketel een, stroop my klere van my lyf af en draai die stortkraan oop. Geen water. Dis normaalweg nie 'n probleem nie. Ons het 'n tenk agter die huis wat veronderstel is om outomaties volgepomp te word, maar daai computertjie werk lankal nie meer nie. Ek stap toe om die huis om die tenk vol te pomp en onderneem om vir Franna teen sy kop te bliksem oor hy nie die tenk die middag al volgepomp het nie. Amper by die tenk struikel ek oor 'n stuk pyp en val met my gesig in 'n hoop polistireen balletjies. By nadere ondersoek sou ek vasstel dat my geyser gesteel is. Waar ek aanvanklik net 'n ligte geween beplan het, was 'n volslae weeklaag hier meer gepas.

Die volgende terugslag was toe my niggie Lani Natal toe verhuis het. Waar ons voorheen kos in die huis gehad het, moes ons toe van self begin shopping doen. Ek haat winkels. Ek wil net instap, kitaarsnare koop en loop. Ek haat die om op Saterdae op en af in die Pick en Pay te drentel en te wonder wat om te koop. Ek haat al die mense met hulle goue skoene wat voor die pastarak staan en staar, en ek haat die lang wag by die till. Kort voor lank was hier nie meer kos in die huis nie. Ons het maar geleef van vis en chips wat ons by die Porra op die hoek gekoop het, en two minute noodles.

Kort daarna het Patience teruggegaan om te gaan stem in Zimbabwe, en dit was laaste sien van blikkantien. Ek en Franna het moedig geveg teen Die Vuil, maar die oormag was sterk. Aanvanklik was dit net die kombuis. Ons kon by tye nie die yskas oopmaak nie, bloot oor ons bang was vir dit wat dalk daar in mag lewe. Stadig maar seker het ons veld begin verloor in die badkamer ook. Plaaswater vlek mos, kort voor lank kon ons nie meer die teels wit kry nie. Teen die einde van laasjaar kon mens dit nie alleen in die huis waag nie. Daar was 'n mier metropool wat besig was om alles te eet. HUlle sou jou in jou slaap wegdra. En hulle is imuun teen Antrap.

En toe word dit winter. Die plek waar ons woon blyk toe 'n moeras te wees. My buurman Gustav moes my menige male kom uitkatrol met sy Prado. In die middel van die winter het 'n paar keer my Polo in rat gesit en hom gestoot tot by die hek, en dan kom stort voor ek gaan werk het. Ek het lank geglo dat ons deur een of ander swart gat geval het en eintlik in die Okavango moeras bly. Dit was so nat dat die water op die afdraende begin staan het.

Die kothuis se water werk met so drukpompie. Gevolglik, as die krag af is, is hier nie water nie. En met al Eskom se sports, moes ek verby die yskas sluip, my kar uit die modder stoot, en by my vriendin Wors, of soms Doret gaan stort. En hulle haat modder.

Saam met dit alles moes ek deal met Eskom, die verkeer, warm wyn, wispelturige vroumense en Julius Malema.

Van Kersfees af het ons water skoongeword, die grond het uitgedroog. Patience het Vrydag al die miere hier uitgelok met 'n pakkie sweets en vrou-alleen die plek skoongekry (ons teels is toe al die tyd wit, sien ek). My niggie Lani soek werk in die Kaap, so miskien keer alles terug na normaal in die nabye toekoms.

But then again, dis nog nie Paasnaweek nie.

wanneer om nie te snuif nie

Die lewe van 'n self-erkende rockstar is nie altyd maklik nie. Ek moes byvoorbeeld vanoggend besluit wat om aan te trek. En daar is baie ander pressures ook.

Ek en die band was kliphard aan die toer, toe ek en my neef 'n erge geval van snotsiekte ontwikkel. Vir snotsiekte is daar niks op hierdie aarde wat werk nie. Die slim mense van ons tyd kan nog steeds nie daarin slaag om 'n kuur uit te dink vir sinus en hooikoors nie (wat ietwat kommerwekkend is, wat daardie einste mense probeer nou 'n kuur vir VIGS soek). Al wat werk is Prozac, maar bloot omdat jy dan ophou omgee oor jou snotneus. Mens kan wel Allergex en Grand Pa drink vir tydelike verligting.

Die een aand verdwyn ek en die neef vlugtig in die badkamer in om 'n allergex en 'n grand pa te hit voor ons set, want dit klink verskriklik as mens oor 'n mikrofoon nies. Ons stap toe al snuiwende uit die badkamer uit om ons kitare te gaan tune.

Ek moes seker bietjie grand pa op my t-shirt gemors het, want dit, saam met die gesnuiwery, het die res van die bands op die toer laat glo ons snuif kokaien, al weet ek dat ek nooit coke sal kan doen nie, want ek sal waarskynlik alles weg nies lank voor dit begin werk.

Dis snaaks hoe 'n snotneus en 'n bietjie Grand Pa jou street cred kan gee.

Bo blink, maar die hoofseun se bed stink

Die laaste ruk in matriek is mos maar 'n wilde affere. Ek en my maatjies het heelwat meer tyd in die dam agter Marine se huis deurgebring as agter die boeke. Vir een of ander rede het ons almal ook verwoed skaak gespeel in die eksamen. O, en natuurlik was daar middernagtelik uitstappies Footloose toe, en soms het die aktiwiteite sommer na ligte-uit in die koshuis plaasgevind. Een van die legendes in Imhoff handel juis oor een van die na ligte-uit paarties op Imhoff se boonste vloer.

Imhoff se boonste vloer is meestal deur matrieks en so een of twee uitgelese standerd 9's (graad 11) bewoon. Die toegang tot die vloer was beperk tot een trap. Mens kon dus enige Mens van Gesag op 'n myl hoor aankom. Gevolglik was die boonste vloer die plek waar al die onheil gebroei het.

Een spesifieke nag het die manne weer paartie gehou met proviand wat by die International Hotel by die stasie bekom is. Die aand het dinge weer oop geloop op die vloer. Die manne wat rook moes buite rook, vir ingeval Bewer (die koshuisvader) besluit om om te loop. Almal het ook vodka gedrink want mens kan dit kwansuis nie ruik nie. Iewers deur die loop van die aand pass die hoofseun uit. Die manne het hom toe op sy bed gaan los en verder geskep.

Of Bewer die manne bekruip het, en of Vodka mens doof maak, sal ek nou nooit weet nie, maar toe die manne weer sien, staan Bewer die deurkosyn toe.

Bewer sit natuurlik toe 'n keel op, van matrieks wat uitrafel, en wat gaan hulle ouers se as hulle geskors word, en die res van die koshuis slaap en nou raas die matrieks so, en dis die mees ongemanierde groep wat hy nog ooit die twyfelagtige voorreg gehad het om in sy koshuis te huisves, en as hy nou sy lat gehad het, het hy almal gemoer. En hoekom kan almal nie soos die hoofseun gaan slaap nie. Hy stel mos nou 'n goeie voorbeeld.

Gelukkig ruik vodka nie, anders was die manne seker oor die gedrinkery ook in die moeilikheid.

Good bye and thank you for the fish

Rock&roll toere is eintlik vreemde goed. Al wanneer jou aandag rerig verlang word is die halfuur wanneer die sound engineer na bewering die klank toets, en die rukkie wanneer jy speel. Die res van die tyd loop jy die gevaar om van verveling dood te gaan.

Elke toerband het sy manier om die tyd om te kry. Zinkplaat speel sokker, die Sunrise toffies speel poker, en dikazzins swem. Maar swem is ook net vir 'n rukkie lekker en dan is daar nog 'n klomp tyd oor voor die soundcheck.

Gareth Cliff het 'n wyle gelede op die draadloos gese dat PE die oksel van Suid Afrika is. Ek kan nie anders om met hom saam te stem nie. Ek was vir 'n wyle gereeld op PE om my brood te verdien (aangesien niemand nog weet my band is famous nie) en sover ek kan agterkom is die enigste cool goed in PE St George's Park en die dolfyne. O, en ook die N2 en die 5uur vlug Kaap toe.

Op een of ander toer - al die toere voel later dieselfde - sak ons een oggend vroeggerig in PE in. Na ons die hele oggend min of meer in die Wimpy verwyl het (al was die milkshakes suur) het ons toe ons amptelike tydverdryf aangedurf. Dit was naby aan nuwejaar en die see was baie vol. So besluit ons toe om liewer die dolfyne te gaan kyk.

Dit was vreeslik oulik. Die rob het daai bal geskop en vis gevreet en ek het my verkyk aan die nuwe rob-bewaarder (temmer, hanteerder, voerder, persoon...). Sy was duidelik nie van PE af nie. Uiteindelik kom Dolly en trawante daar aan. Dolly is volgens my eie skatting omtrent 50 jaar oud, want my pa beweer hy het vir Dolly sien vis eet toe hy 'n laaitie was. Al ander verklaring is dat Dolly elke 10 of 15 jaar vervang word met 'n nuwe een (min of meer soos my budgie wat ek gehad het toe ek 5 was. Hy het gereeld vergeet hoe om te praat, dan moes ek hom weer leer. Donnerse budgies).

Dolly en haar laaitie het so bietjie gespring en ons het almal mooi hande geklap en dan kry Dolly vis. Dan hop sy deur daai hoepel, dan klap ons almal mooi hande, en dan kry sy vis. Dan swem sy 'n moerse hou van die oorkant af en spat almal nat.En ons klap mooi hande. En dan kry sy vis. Dan spring sy oor daai paaltjie, ons klap mooi hande, en dan kry sy vis.

Ek was dus glad nie verbaas toe Dolly die Colemannetjie met die vis in steel nie. Ek sou ook. Ek was net nie seker of ons moet hande klap of nie. Ek het wel onbeheersd begin lag.

Die res van die show was baie komieklik. Dolly en haar laaitie het daai Colemannetjie rondgegooi en al die vis opgeeet, terwyl die arme vrou haar fluitjie warm blaas en op die water klap.DShame. Dolly wou niks weet nie, wat ek ook kan verstaan, want sy het mos al klaar al die vis. Dit het my ook gepas, want ek was lankal gatvol hande geklap.

Ons het toe comps gekry vir die middag se show, maar hoe ek ook al gehoop het, Dolly het nie weer die Colemannetjie gesteel nie. Die aand se gig was ook kak.

Mense verskil mos maar

Ek het destyds, toe ek nog geswot (my ma wou moerse graag gehad het ek moet 'n dokter of 'n ding word, so nou is ek 'n ding), 'n vreeslike cool meisie gehad. Sy was vreeslik vooruitstrewend, en met die mooiste oe. Haar pa het geboer in die Boesmanland, en ek het my wintervakansies daar deurgebring, en die somervakansies by hulle huis in Kleinmond.

Soos enige verhouding, is alles nie maanskyn en rose nie. Sy het byvoorbeeld daarop aangedring dat ek skoene aantrek na danse toe, en dat ek my voete was voor ek gaan slaap, al was hulle nie vuil nie.

Een jaar, toe ek en my maatjies al in die Senaat ('n weelderige deel van Simonsberg, vir senior studente) gebly het, kom sy op Aristea se HK. En Aristea se HK moet alles self doen. Dis nie soos Simonsberg waar jy die blougatte kan laat vlot bou en kortkort een stuur om 'n dop te gaan gooi nie. Saam met dit word HK's gedwing om met ander HK's te skakel tot ounag toe.

Ek, aan die ander kant, is gedwing om heeldag te braai en te kuier, om die blougatte jaloers te maak. Want ons is mos die manne, sien?

Die probleem met heeldag kuier is dat mens so half voeling verloor met tyd en watse dag dit is. Dit voel later alles soos dieselfde dag, of alles na 'n ander dag. En dan, op 'n gegewe oomblik, onthou mens dat jy nog 'n girlfriend het. En jy verlang. En aangesien jy nou al vir dae (weke, maande, wie weet) bele in die wyn- en vleisbedryf kan jy nie bel nie. Dan gaan soek jy haar.

Ek kon my geluk nie glo toe ek haar reg agter Simonsberg kry nie. Imagine dit. Mens gaan op reis om goud te soek, en kry dit reg langs jou tuinhekkie.

Wat ek nie besef het nie, is dat ek haar reeds die middag gesien het nie, en dat sy oppad is na 'n skakeling met Simonsberg se HK was. Ek kon dus nie verstaan wat haar storie dan nou is nie. Ek verlang mos, en ek is after all haar boyfriend.

Nodeloos om te se breek daar toe so effense skermutseling uit. Na ons mekaar effens sleg gese het, en ek haar hand en mond belowe het ek gaan haar goed breek as sy nie ophou om met my lelik te wees nie ons uit mekaar uit. 'n Skamele twee glase wyn verder het ek van die storie vergeet. Ek was nog altyd te lui om 'n wrok te koester.

Laat die nag, besluit sy maar sy het my vergewe. Ek glo sy het besef dat my verlange dalk eg was. En sy besluit om by my te kom kuier. Ek het egter reeds bedwaarts gekeer. Ek bedoel op die gevorderde ouderdom van 23 kan mens nie meer al daai party vat nie. Jy is immers nie meer tweedejaar nie.

Met 'n hart vol liefde kom klim sy in my bed, waar ek die slaap van die dooies le en slaap. En toe sy my uiteindelik wakker kry, is al wat sy uit my uit kry, nee ek kan nie met jou vry nie, waar is my girlfriend? gaan roep my girlfriend.

Sy was vir my bitterlik de moer in oor ek haar nie herken as ek onder die invloed is nie. Ek het gedink sy behoort bitter bly wees oor ek nie sommer met enige chick wat in my bed klim probeer vry nie.

Maar nou ja, so verskil mense...

Daai dag toe die hel my bekruip het

Ek kan nie verstaan hoekom almal lag as ek die storie vertel nie, maar ek en al my goed het laas Vrydag amper in ons moer gebrand.

Dit het eintlik al Donderdagaand begin brand hier in die berg langs my, maar die wind het die ding weg van my huis af gewaai. 'n Onrustige slaap is dus al skade wat die brand my berokken het.

Omdat my band nog nie famous is nie - of eintlik, dit is, maar baie min mense weet dit - moet ek nog elke dag van my lewe my brood in Die Kaap gaan verdien. Ek is met 'n effense onrustige hart hier weg, en het luidkeels op kantoor verkondig dat ek waai so gou die rook begin draai in Idasvallei se rigting. Die vuur het my heeldag diep teleurgestel en so kom ek eers 4uur se stryk hier by my huis aan. Steeds geen vuur.

So laai ek toe maar my goeters vir my naweek Up The Creek toe en spring in die Sneeuleeu om gou by die geel apteek te stop vir verversings. Toe ek uit Tops uit gedwaal kom, vang my oog die koppie waaragter my huis skuil, en dis net een blou bank rook.

Toe ry ek maar weer berg-in om die storie te bekyk. Met my aankoms sien ek die vlamme is vier verdiepings hoog en so 300 m van my huis af, en die wind waai die rook reg oor my kop. My eerste gedagte was, jou bliksem, hoekom nou eers? En byna onmiddelik daarna, ag nee, daar gaan my naweek in vlamme op.

Die ding met 'n bosbrand is, jy kan niks rerig daaraan doen nie. Die probleem is, daar is te veel vlamme en te min naby water. So gewoonlik probeer jy hom oortuig om homself dood te brand in 'n brand, terwyl jy bid dat die wind draai.

Wat die hele situasie vererger is dat die kleinhoewe waar ek bly so paar jaar terug tot in die grond afgebrand het, en daar is geen manier om te weet of die stukkie grond nog steeds selfmoordneigings het nie.

Ek het toe maar die vuur afgeneem soos 'n Japannese toeris sou, en van my verversings begin geniet. Daar is tog immers niks om te doen nie. Maar toe daai vlamme begin nader kom, het ek my lewe in oenskou geneem en besluit dat al wat ek tog eintlik besit wat van waarde is, is my kitare. Ek het hulle toe in die Sneeuleeu gelaai en teen ek gery het Up The Creek toe, het dit actually gelyk of die brandweer die fight wen.

Dit was alles cool, tot Yvonderlik vir Goodstuff bel by Up the Creek en hom van die helikopters vertel. Toe kry ek daai selle gevoel wat mens kry as jy net oor 'n spoedkamera is, so hol kol op jou maag. Vir die res van die naweek het ek aansienlik vinniger deur my verversings gewerk as wat ek beplan het.

Toe ek Sondag die pad huistoe vat het dit my bygeval dat daar 'n vet kans is dat al wat ek dalk oorhet, my kitare, my kar, en so paar vuil T-shirts is.

En dan lag almal as ek die storie vertel.

Sunday, March 29, 2009

My lydensuur

Ek is nou op daai ouderdom waar ek my boesempelle een vir een aan Die Huwelik afstaan. Ek le snags wakker oor die moontlikheid dat hulle gaan begin kinders kry wat my kitare gaan bespoeg, gaan nies op my matte en my arme hond terroriseer. Ek bied darem altyd aan om peetpa te wees. Hopelik jaag die gedagte aan my wat peetpa is hulle genoeg skrik op die lyf om eers bietjie "te wag".

Die vakansie, so kort voor Krismis, kom my vrind JW toe tot 'n val. Ek moet erken, ek het tot voor hy, "Ja dominee" gese het nog hoop gehad, maar het toe besef hoop is min. Troppe kinders in my huis is my voorland.

Die aand by die onthaal - wat heerlik was terloops, ek het niks teen troues nie, dis net Die Huwelik wat my so skrik op die lyf jaag - tussen al die kapperjolle en gefuif deur, kry ek 'n asma-aanval soos lanklaas in my lewe. Of dit nou 'n vreemde boom, 'n miskien iets in die kos, of reaksie op die vrees was, is ek nie meer seker nie, maar my bors het gefluit soos 'n goederetrein.

Die verantwoordelike mens wat ek soms is, het ek my neef gevra hom my na en van die onthaal te karwei, want ek het soms 'n ander reaksie by troues, naamlik dat ek sukkel om te sien. En so is my liefling neef weg met my kar, waarin my asmapomp is, heeltemal onwetend dat ek later die aand by die dood sal omdraai.

Na ons vir JW met watergewere, streamers en ander grillerige goed geskiet het, en na hy die kousband onder Ruannette se rok uitgegrou het, word ek bewus van die beklemming op my bors. En stelselmatig hoor ek die goederetrein se fluit aankom, en hoe nader die trein kom, hoe minder fut het ek in my lyf oor. Op 'n kol besef ek net, dat die wilde gedansery my nie baie ver gaan bring nie, en ek gaan sit kruisbeen op die dansvloer. Soos 'n blinde bedelaar (sonder asem) vra ek toe elke dansende couple of hulle nie miskien 'n pompie het nie. Ek weet nou presies hoe bedelaars voel as mens net jou kop so skud. Ek gee sedertdien vir hulle almal geld.

Intussen, begin ek kolletjies sien, en die goederetrein se fluit begin al meer na 'n eindfluitjie klink. Ek was al besig my aardse besittings te begin sorteer en om my testament per sms te tik om al die erfgename in kennis te stel (my sussie kry my cds, my neef my kitare, en my broer die res, hy moet net sorg vir wyn by die begrafnis, ek soek 'n Ierse wake), toe kom daar 'n dame na my toe aangewals.

Of dit engel was, of een van die strooimeisies, of die bruid, dit weet ek nie. Op daardie stadium van my lydensuur, kon ek nog net kleure onderskei, en die wit rok is al wat ek kon uitmaak. Sy het my onder my elmboog gesteun en uitgelei na 'n verafgelee disco, wat toe by nadere ondersoek 'n ambulans blyk te wees.

So sit ek toe, halfpad deur my bra JW se troue, in 'n ambulans, met 'n suurstofmasker op my gesig. My vriendin Rene se nuwe boyfriend het darem so keer of wat kom kyk of ek al beter is. Die kolletjies het later stuk-stuk verdwyn en die skeidsregter is op die ou end weg met die goederetrein.

Toe ek daar bykom, kon jy my nie met 'n plank platslaan nie. Hulle se mos, dans asof daar geen more is nie.

Post Scriptum: Ten spyte van die sinisme waarmee ek die huwelik bejeen, wens ek my bra JW sy nuwe vrou, Ruannette, die beste wense vir die toekoms toe. Ek ken julle al jare, en nie eers 'n WP oorwinning maak my so gelukkig soos die feit dat julle die knoop deurgehaak het nie. Julle kinders kan enige tyd op my mat kom nies.

Oom Nugterdaan

Die presiese feite van hierdie storie het my nou so half ontgaan, maar ek kan darem nog genoeg onthou van dit wat my Oom Willem my so oor 'n glas vars Three Ships op sy knie vertel het.

Ek het familie wat kom van Bethal af. As ek dit storie reg het, het Bethal in daai stadium net twee strate gehad: Die Hoofstraat, waarskynlik Voortrekkerweg of Van Riebeeckstraat, en Kerkstraat. Soos wat die tipe dorpe ook deur die bank werk, is die kerk en die ladies bar nie ver van mekaar af nie.

Op Bethal het 'n Oom Nugterdaan gewoon. Nodeloos om te sê, kom om Nugterdaan se naam nie van sy sobere gewoontes af nie. Die ding is, Oom Nugterdaan het aandele gehad in die ladies bar.

Smiddae, net na die laaste trein van die stad se kant af in die stasie ingestoom het, dan het oom Nugterdaan loop gekry na die ladies bar, waar hy en die Van Rhyns van Stellenbosch dan bietjie aan die gesels geraak het. Laatnag, as die Van Rhyns nou die argument gewen het by wyse van spreke, stryk oom Nugterdaan aan huistoe.

'n Dorp soos Bethal, wat net twee noemenswaardige strate het (of gehad het, ek weet nie hoe die plek nou daar uit sien nie), is die tweede straat altyd loodreg met die eerste een. Oom Nugterdaan moes met ander woorde by die kerk skerp links draai en aanstryk huistoe..

Hy het so manier gehad om sy regterhand in sy baadjiesak te druk en dan met 'n gebalde vuis sy duim in die rigting wys waarheen hy graag wil loop. Met so tipe van 'n geberedeneerde skuifelstap, sodat die mense nie moet sien oom Nugterdaan is dronk nie, vat Oom Nugterdaan die pad.

Die jaar toe Klein Daantjie, Oom Nugterdaan se jongste spruit, uitklaar uit die Army, was daar nie baie werk oor vir sweisers op die dorp nie, want die Spoorweë het nie meer so goed gedoen nie en dit was voor die jare toe werklose sweisers hulle heil in sekuriteitshekke en palisade-heinings kon vind. Klein Daantjie het toe maar aan vir aan saam met sy pa, Oom Nugterdaan, slaags geraak met die Van Rhyns van Stellenbosch.

Aand vir aand sal oom Nugterdaan en Klein Daantjie dan nou saam stap, Oom Nugterdaan met sy regterduim wat die rigting aandui vir die skuifelstap, en Klein Daantjie so aks agter hom, met dieselfde stap wat hy by Oom Nugterdaan afgekyk het. Al verskil is, Klein Daantjie was links, so hy het andersom as Oom Nugterdaan geskuifel. Net so voor die tuinhekkie sal Klein Daantjie nou effens terughou, sodat Oom Nugterdaan eerste by die hekkie kan inloop.

Oom Willem kon my dalk gesê destyds, maar presies wat die spesifieke aand gebeur, skiet my geheue nou te kort. Ek is vermoed dis na Klein Daantjie se mondigwording, maar die een aand, toe die hekkie nou in sig kom, begin Klein Daantjie so aks vinniger loop om nou voor Oom Nugterdaan by die hekkie in te loop. Die klong het mos nou kwansuis man geword.

Oom Nugterdaan, natuurlik van die ou skool waar kinders laaste by hekkies inloop, was natuurlik nie te vinde vir die nuwerwetse idee nie en begin self aanstaltes maak vir die hekkie. So skuifel die twee al hoe vinniger aan na die tuinhekkie toe, maar net so voor die twee gelyk by die hekkie aankom, stamp Klein Daantjie vir Oom Nugterdaan dat hy in die privot heining val. Klein Daantjie, heel ingenome met sy prestasie, gaan slaap toe in sy agterkamer van die spoorweghuisie waar hulle woon.

Ek weet nie of een van julle al probeer opstaan het uit 'n privot heining nie. As mens jouself probeer opdruk, dan gaan die takke pad, met die gevolg dat jy net bietjie dieper in die privot heining insak. Die prosedure is natuurlik heelwat as 'n man se koördinasie effens aangetas is oor jy met die Van Rhyns te doen gehad het.

Oom Nugterdaan het toe later van pure uitputting net so in die privot heining aan die slaap geraak. Toe Oom Nugterdaan met hanekraai in die heining wakker word, spierwit van die ryp, en die meerderheid van sy motoriese vaardighede aan hom terugbesorg is, vlieg Oom Nugterdaan soos 'n jong man uit die heining uit en gaan donner vir Klein Daantjie met die horswip.

Ons familie het so sêding: Mens los nie jou pa in die privot heining nie.

So blikkie samboksalf darem

My oom Leon was destyds landdros op Phillipstown en het my die storie vir die heilige waarheid vertel.

Daar was glo twee vreeslike lelike broers, ons noem hulle maar Isak en Fanie, vir die doel van die storie. Shame, die mense van die distrik het van Isak en Fanie Lelik gepraat, of soms net die Lelike.

Die broers het sulke dik lippe soos ‘n Bedford lorrie se tjoep gehad. Die lippe kon vreeslik bars. Dis soos daai wat Tolla vertel het destyds van die twee broers wat so sit en koffie drink in die oggend en vir mekaar …ôre …ôetie sê oor hulle lippe te seer is om die “m” en “b” klank te sê.

Oom Isak Lelik was ‘n gereelde kerkganger, maar Oom Fanie lelik het net vir geleenthede kerk toe gegaan – dope, troues, vendusies, nagmale, begrafnisse en die jaarlikse kerkbasaar. Die mense op die dorp het vir Oom Isak Lelik gewoond geraak, maar Oom Fanie Lelik het nog die kinders bietjie skrik op die lyf gejaag.

Die een spesifieke Sondag is Oom Fanie ook in die kerk vir die sesweeklikse nagmaal, en dis warm. Dis van daai dae waar die honde die katte jaag, maar altwee stap. Dis so warm, die sonbesies raas nie eers meer nie. Oom Fanie sit met sy vol manelpak in die kerk en hy sweet. En soos hy sweet loop die sweet in sy gebarste lippe in, en dit brand. Dit brand naand so dat so oë begin traan en hy die draad van die preek heeltemal verloor.

Kyk, Oom Fanie was ‘n goeie mens. Hy het jaarliks vir al wat ‘n welsynsorganisasie is gegee, behalwe nou vir die sending, want Oom Fanie gee nie vir veediewe en mense wat plase afbrand geld nie, nie hy wat Oom Fanie Lelik is nie. Oom Fanie het vanselfsprekend ook nie gereken dis reg laat ‘n man ‘n preek se draad so verloor nie, vernaam nie op nagmaal nie. Hy begin toe krap daar in Tante Berryl se handsak agter so blikkie samboksalf.

Tante Berryl het hom eers in die ribbes gepomp, want mens krap nie so in ‘n handsak in die kerk nie, dis onbetaamlik. Maar toe Tante Berryl nou eers die arme man se lyding sien, het sy hom laat begaan. Sy maar vanaand om vergifnis vra vir haar man se onbetaamlikheid.

Uiteindelik kry Oom Fanie toe die blikkie samboksalf beet en druk hom sommer so met die een vinger oop. Hy skep ook sommer diep, en smeer die koel lafenis op sy lippe. En hy smeer sommer oordentlik, net vir ingeval die lippe hom nou weer las gee.

Die dominee se preek bereik toe net ‘n klimaks en hy kyk sommer reguit vir Oom Fanie. Oom Fanie kom mos juis min in die kerk, en die stomme man behoort elke ons van die Woord te ontvang. Maar toe die dominee vir Oom Fanie lelik sien, begin hy onbeheersd giggel.

Oom Fanie is dadelik gesteurd, want watse lawwigheid is dit dan nou die? Kan die jong predikantjie van die Kaap dan nou nie oordentlik kerk hou nie? Hy het mos gesê hulle moes nooit vir Dominee Lewies laat gaan het nie. Die man het nou wel sy foute gehad, maar kerk kon hy darem nou vir jou hou. Oom Fanie Lelik kyk toe ewe ergelik om om te sien waaroor die dominee dan nou so giggel.
En daar, een-een, bars die hele gemeente uit van die lag. Die tannies het nog so eers begin terughou, maar keer was min. Teen die tyd lag die dominee al uit sy maag uit. Hy gil Amen en hardloop in die konsistorie in.

Want sien, as ‘n man nie kyk nie, voel Oom Fanie Lelik se blikke se samboksalf op ‘n druppel water na Tante Berryl se blikkie lipstiffie.

Maar toe skep hy

Soos die Du Toit's van die Agter-Paarl, die Du Preez's van Patensie en die Giliomee's van Protem kry mens ook die gedugte Steyns van Darling. Die Steyn-familienaam is Gabriel, gevolglik is almal daar Gawie of Riel, en gewoonlik gaan dit saam met een of ander verwysing, soos die plaasnaam (Gawie Grootkraal) of een of ander gebeurtenis Gawie Basaar, of in die geval, 'n liggaamlike gebrek, Gawie Tet en Gawie One-eye.
As my pa ooit op Spies en Plessis of Maak 'n Las of iets kom, is hierdie die storie wat hy gaan vertel. Hy het dit by Oom Riel Steyn, wat by ons op die plaas gewerk het gehoor, en Oom Riel en die Gawies is bloedneefs.
Oom Gawie Tet (so genoem oor die moesie op sy voorkop) en Oom Gawie One-Eye was groot WP-ondersteuners, en het al vir baie jare seisoenkaartjies op Nuweland, halfpad teen die Spoorwegpaviljoen op, min of meer op die 10-tree, Jan Pickard se kant.
Die enigste ding wat hulle liefde vir rugby kan ewenaar is moontlik hulle liefde vir KWV 5-jaar. Elke ekskursie Kaap toe gewoonlik gepaard met so bottel of wat KWV.
Een middag na WP ry Tet en One-eye terug Darling toe, man-man 'n blikbeker met KWV. Net anderkant die Melkbosafdraai op die Weskuspad staan 'n Datsun 1200 met 'n oop bonnet langs die pad. Die Gawies trek af en vra vir die kerel, Ou Van, is hier fout?
Nee Oom, se die mannetjie, smaak my ek het 'n gasket geblaas. Kan Oom-hulle my nie sleep tot by die Yzerfontein afdraai nie?
Nee maar dis reg, jy kan maar vasmaak, maar se my ou Van, skep jy?
Nee, Oom, ek gebruik nie sterk drank nie, kom die heiliige woorde.
So sit Tet en One-eye en skep voor die Ranchero en die laaitie laat later met die toeter weet, hy is reg om te ry.
Sit so Oom Gawie Tet agter die stuur en Oom Gawie One-eye skink en hulle bespreek die game. Hier is my pa so half vaag op die details, maar hoe dit ookal sy, so 20 km voor die Darling afdraai, kom Oom Gawie One-eye agter, hier sit 'n man op hulle gat, en dit nogal met 'n Datsuntjie.
Maar wag, se Oom Gawie Tet, ek gaan hom nou wys, ek gaat hom nou wys. EN met die trap hy die vet dieper in, en vat sommer vir good measure 'n diep sluk uit die pluk beker.
En so skep hulle.
Na 'n rukkie kyk Oom Gawie One-eye weer om en se, nee wat ou Van, die Datsuntjie sit nog. Stoot aan jong. En Oom Gawie Tet trap hom nog bietjie dieper in, vat 'n diep sluk en gee sy beker vir Oom Gawie One-eye aan.
De, hou vas ou Van, nou gaan ons ja.
En kort-kort as een omkyk, dan sal hulle se, nee wat ou Van, hy sit nog, jy sal maar nog moet aanstoot.
Die storie eindig dan waar Oom Gawie Tet die Darling afdraai teen 'n moerse spoed vat en Oom Gawie One-Eye omkyk en sien hoe die Datsuntjie deur die bossie aangeswaai kom, gewoonlik met die gepaste handgebare van my pa en uitroepe van ongeloof deur mense wat die storie vir die eerste keer hoor.
Nou kom die klong, asvaal van die stof, na die Ranchero aangestap, en die eerste ding wat Oom Gawie One-eye hom vra is, Ou Van, skep jy?
Hulle se, maar toe skep hy!!

There is something about this place, you know?

Die groot Bill Bryson fan wat ek is - my heroes is Bill Bryson, Dana Snyman en Andy Capp - lees ek een middag in sy Down Under oor 'n plek genaamd Broken Hill, kwansuis een van daai plekke waarheen jy gaan vir 'n week vakansie en nooit weer weggaan nie. Baie soos Hangklip.
Op ons laaste toer het my neef my en die waentjie vol kitare afgehaak by Hangklip Hotel sodat hy die dromset en sy girlfriend in Stellenbosch kan gaan haal. Ek, met my langpaddors en kanonbors loop sit toe by die bar in 'n poging om 'n bier te kry. Na 'n paar vrugtelose probeerslae kom ek agter dat mens net moet vra vir 'n koue bier, soos wat buite geadverteer word. Ingenome met my nuutste bevinding word ek voorgestel aan Die Ou Langs My wat dadelik groet met, jy is 'n duiker ne? En weet jy hoe weet ek, want ek was in Die Mag, en jy 'n groot bors. Die middag word toe gevul met lesse in trots, patriotisme, eer en hoe om iemand met die agterkant van jou hand te vermoor. En waar om te druk as die stres te veel raak.
Toe die Man Langs My my later oor sy skouer nooi vir 'n braai oppad uit, raak ek met die kroegman aan die gesels.
My eerste kennismaking met Hangklip was jare terug, toe my jong vader nog gereeld geduik het. Doodgelukkig, met 'n gesig vol sand sou ek heel tevede op die sand speel tot pappa klaar geduik het. Dan sou ons stop by daai ander plek vir 'n kouk vir my en 'n bier vir pappa en dan terugry Gordonsbaai toe om te gaan braai (perlemoen vir die grootmense en 'n alikruk vir my).
Hangklip, vertel die kroegman my, is een van daai plekke waarheen mense gaan vri 'n week of wat en nooit weer weggaan nie. Sy pa het glo vermis geraak en toe spoor hy hom in Hangklip op. Hy het toe so jaar of meer terug by sa pa gaan kuier, en nou is hy nog steeds daar. There is something about this place, you know?
Hy het ook sy girlfriend daar ontmoet, 'n girl genaamd Toni wat een of ander famous singer is. Sy was op daardie stadium in Frankryk by haar mense en hy was, in sy eie woorde, misrable. Maar terselfdetyd ook dolgelukkig oor hy misrable is oor 'n meisie, want dit beteken hy hou van haar.
Laat die middag verskuif ek tot op die gras voor Plankies, en met my kop op 'n kitaarkis le ek met die blou see aan die een kant, en die blou Hangklip aan die anderkant, en daar daal 'n Saterdagmiddag rustigheid oor my neer. Ek dink ek verstaan nou wat hulle bedoel - There is something about this place, you know?

Die highway dra my ring

Toe ek en Jonsie nou die dag in Music Mate staan om speelgoed te koop vir die orkes, het het weer een van daai oomblike beleef: Moet ek nie miskien begin groot word, en begin huiskoop en vrouvat soos my tjommies nie.
Maar, soos die barman in Hangklip Saterdagaand vir my vanagter sy skyf beduie het, there is something about this place...
Dis in daai oggend as mens alles laai, met so onrustige opgewondenheid. Dis daar wanneer jy die kar volmaak en 'n Coke koop vir die pad. Jy voel dit as jy oor die berg is en die bordjie langs die pad se 120 en jy kan uiteindelik ADCD in die draadloos sit. Dis in daai gevoel waar jy weet, nou kan al die fokkers wag tot Maandag voor hulle my weer kan pla.
Dis daai gevoel as jy daai volume knoppie op jou Les Paul opdraai en die note skeur deur die Marshall se speaker. Dis daai krieweling as Charl se basnote deur my tone kom. Die 6 duim wat jy bo die grond sweef as dit 'n goeie set was.
Dis die oggende wat jy wakker word en jou stem werk nie, jou lyf is moeg en seer. En dan laai jy maar weer alles en skuif aan na die volgende dorp.
En dan, een aand laat staan jy in die stort en kyk hoe die laaste toerstof van jou lyf af spoel in die drein in. Dan dink jy, die huis se moer, ek is 'n rock&roller, en die highway dra my ring.

die arrival by die visstok

Op 'n spesifieke Weskustoer speel ons by die Visstokfees op Vredenburg. Die fees gebeur slegs as iemand onthou om dit te reel, wat verklaar hoekom daar van 2003 af nog net drie van hulle was (daar is glo volgende jaar weer een).
Die line-up van die aand was ons, Liquid Fusion, Bed on Bricks en Akkedis, en nog 'n band wie se naam my ontgaan.
Die gig word gespeel in 'n stoorgebou by wat ek dink die skougronde in Vredenburg was. Akoestiek is dus 'n ding waarvan mens al gehoor het. Dit was ook die eerste show waar ons die voorreg gehad het om die gesogte VIP staus te dra. Ons was dus al band wat rondgeloop het met die lawwe geel kaartjies met die vissie op. Backstage (wat nie agter die stage was nie) is ons begroet met 'n Coleman vol bier en 'n bottel van daai Duitse kruielikeur waaroor ons so mal is.
Hier het ons gedink, arrive ons nou. Nou is ons famous.
Die gig het redelik goed afgeloop en aangesien ons heel eerste gespeel het, kon ons daarna heerlik kuier. Ons het gelag vir die ou wat teen die scaffolding vasloop iewers deur die aand. Ons het gewonder watse drugs daai oui met die stywe oe inhet, en ons, veral ek, het een of ander splinternuwe tribal dans uitgevoer tydens Bed on Bricks se set. Dis een van daardie apokaliptiese aande, want ons in mos nou famous.
Later die aand, stap ons oor die gras terug na Jacques se huis toe om te gaan slaap. Daar word ons begroet met sagte banke en 'n TV wat werk. Ek en Anton het gaan slaap en Charl moes eers wag dat sy girlfriend hom bel om nag te se. In die tussentyd het Etienne op die bank voor die TV aan die slaap geraak. Toe Charl nou klaar gesels het ("nee, sit jy eers neer...") en die slapende Etienne op die bank ontdek, sit hy die TV op e-TV se stout movies los die remote op Etienne se bors en gaan slaap.

Perms en Purple rinses

Tannie Jans is van die destydse Noord Rhodesie, maar bly van ek kan onthou by haar dogter, Anne Marie, in die Agter Paarl, so ent van my ma-hulle af.

Tannie Jans is 'n statige, puntenerige tannie, en dra Sondag vir Sondag haaipolfaais en 'n hoed op haar perm-en-purple-rinse hare kerk toe. Sy is van die ou garde wat opgekrap raak as die dominee te kort bid, of die liturgiese orde deurmekaar het. Ek het 'n paar keer gesien hoe sy sie 5 km kerk toe stap oor haar dogter te veel draai na haar sin. Mens moet nou in gedagte hou dat dit met haar haaipolfaais is.

So ontwikkel tannie Jans toe die probleem met die gemeinte (soos sy se) wat te laag en te vinnig sing (want dit klink soos 'n klomp brommers by 'n oesafbraai).

My sussie vertel my later,dat sy die saak met die domniee opgeneem het by die wyksbiduur, want die saak le hard op haar hart. Die aand, by die bidure by my ma-hulle, gaan staan sy reg onder die lig, en maak die gesangeboek oop by "Soos 'n hert", en sing soos wat mens moet sing in die kerk. Hoog en Stadig.

Sanli vertel my later:" Dit was so hoog, net die honde kon dit hoor"

Toe Dikazzins gaan skree het

Dikazzins had op 28 Julie, in die jaar van Onse Here, 2007 die groot voorreg om te headline by 'n rockfees in Klapmuts, genaamd die Screamfest.

Dikazzins het oor die jare heen naam gemaak as 'n band met deursettings vermoë en ongelooflik baie gees, 'n stelling wat bewys word deur die ondersteuning wat die band geniet in verskeie oorde. Hulle word gekenmerk deur 'n ongekunsteldheid wat uit beide hulle optrede sowel as hulle musiek duidelik blyk. Die neefs is mens-mense.

Soos wat die tyd aangaan, en ons meer inligting oor die betrokke fees ingewin het, het die spanning al hoe meer gelaai. Eerstens, organiseerders verkies normaalweg om dikazzins nie laaste te laat speel nie, eerstens omdat hulle 'n crowd tot hulle voete dwing, tweedens om die mense vroeër daar te kry, en derdens, omdat die neefs heeltemal te veel "gees" vang om te kan speel laataand. Tweedens, dikazzins speel ten beste hardcore country en dit blyk toe dat al die ander bands daar metal bands is. Ek weet nie hoe hulle 'n Rooiwynrockband kan laat headline by 'n metalshow nie, maar dit daar gelaat.

Ons het toe maar eers op my vader se plaas gaan braai, uit naakte vrees vir wat kom. Ons set sou 11uur begin en die ouman boer amper langs Lanners Landing. So tienuur se kant, toe ons die meeste van die wyn opgedrink het, sien ons toe nou kans vir die metaalfees waar ons moet gaan blues speel. Anton en Charl glip gou weg om hulle girlfriends te gaan haal en ek en Etienne wag vir Charl om ons te kom oplaai. Halfpad Klapmuts toe sms Anton vir my:" Ou, dit klink of hulle katte offer hier binne".

Daar gekom, word ons begroet deur 'n see weird mense, soos wat jy nie eers op 'n goeie aand in Mystics op Stellenbosch sou kry nie. Daar is piercings deur allerhande plekke, vreemde haarstyle, eyeliner, buckles en zips en clips en boots met buckles en so aan. Uit die saaltjie ("die grot") waar die "fees" is kom daar 'n onaardse geskree. Dit het so bietjie geklink soos 'n hees kat in Augusmaand. Later sou ons hoor dat dit is hoe dit werk in 'n metal band. Ons het toe maar weereens by die bar gaan sit en try gees vang, maar selfs Jagermeister wou nie die truuk doen nie. Ons het toe uiteindelik die stage net so voor middernag geslaan.

Die helfte van die crowd het uitgeloop met ons eerste note en die res was taamlik verward. Ek was baie danig vir paar wat probeer headbang het op 'n Lee Bottel Tas, maar selfs hulle het later die stryd gewonne gee. 'n Akoestiese song in 3-tyd verleen homself net nie daartoe nie. So drie liedjies in die set in was daar die mense oor. Ons het toe maar afgesluit met 'n raserige rendition van 9mm blues en verkas huistoe.

In retrospek dink ek die mense kon seker nie verstaan wat die akoestiese kitaar op die stage doen nie en hoekom hulle kan hoor wat Etienne sing nie. Hulle kon seker ook nie verstaan wat Etienne met sy topboots op stage doen en hoekom ek nie skoene aanhet nie. En die ergste is, hoekom Dikazzins is nie in swart geklee nie.

Ons was heel uitgefreak en ek dink die crowd ook. Dikazzins gaan nie in die nabye toekoms weer by 'n metalfees headline nie. En net vir good measure het ons vir so rukkie net by VLV-byeenkomste, damesoggende en moet-troues gespeel, net om ons siele te laat bedaar.

Twee weke in 'n Broodblik

Ek kon dit nie self sien nie, maar ek glo nie eers die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het genoeg woorde in om my blik van teleurstelling te beskryf toe daardie vriendelike kerel van Imperial vir my 'n Atos gee om mee te ry nie.

Vir bykans 15 maande nou al, is ek 'n trotse eienaar van 'n 2004 Polo, beter bekend as Die Sneeuleeu. Alhoewel hy spoedboetes inryg soos sosaties, is Die Sneeleeu is 'n wonderlike voertuig. Hy kan byvoorbeeld Piekenierskloof oorry in 5de rat. Hy kan ook 'n hele band en een girlfriend, met 'n sleepwa vol kitare, tot binne-in Dronkwordspruit en terug bring, sonder enige moeite. Hy gebruik nie baie diesel nie, en sy draadloos werk. Alles wat mens van 'n kar verwag.

Toe, een middag, is ek en die sneeuleeu in 'n onderonsie gewikkel met die kar voor ons, waarin die Sneeuleeu sy neus breek, en gevolglik geopereer moet word. Reconstructive surgery.

Al genade is toe om 'n voertuig te huur, vir die tyd wat ek karloos in Idasvallei is (met gedeeltelike apologie aan Klopjag). Vaandaar die Atos.

Kyk, 'n Polo is nie die grootste kar in die wereld nie, maar jy moet toegee, daar is plek vir al my ledemate en die meeste van my kitare, en mens kan iemand nog saamry ook as jy sou wou. Die Atos daarenteen...

Die Atos het die sogenaamde "high boy" ontwerp. Mens kan as't ware met 'n keil op joukop sit in die kar maar, vir 'n voormalige Boland swemmer soos ek, is daar nie plek vir beide skouers in die kar nie. Ek is dus genoop om die ruite oop te draai sodat my arms buite die kar kan wees. Ek moet dan seker maak my arms steek weerskante ewe ver uit, anders draai die kar.

Volgens die internet het die kar 'n 1100 enjin iewers onder die kap. By nadere ondersoek sou ek vasstel dat dit nie 'n enjin is nie, maar 'n eend wat paddle. So ry ek eendag in die somerhitte stad toe, en sit ewe dankbaar die air con aan. Ek dog eers ek het in iets vasgery, soos wat daai Atos agteruit ruk. Ek kon toe agter dat ek wel nog vorentoe ry, maar net heelwat stadiger. En die eend het ook heelwat gees verloor, want ek kon niks vinniger as 80 nie. Ek kyk toe om om te sien of ek nie dalk iets gehaak het nie, en maak toe seker dis nie dalk die handrem nie.Uiteindelik kom ek agter Dit kos my toe weer die aircon afsit, want as ek hom aan gelos het, was ek waarskynlik nog steeds oppad stad toe.

Die Swart Suidoos van nou die dag, het daardie karretjie laat wapper. Ten spyte van my beste pogings kon ek nie daai lawwe karretjie in een baan hou nie. Op die ou end was al manier om in die regterbaan te ry, en dan as die wind my oor die pad waai, net bitter vinnig die flikkerlig aan dit sit en te hoop die mense gee pad.

Dit is alles erg, maar die ergste was toe my kollega Victor vir my se:" Eh, mfowetu, why you driving this car? This car is for mamas..."

Saturday, March 28, 2009

'n Gegewe Brannewyn

Ons speel een naweek by ‘n Fees in die Rawsonville distrik. Ons en die local tandarts, wat ook sing, is die main act by een van die venues.

Weereens, dis maar ‘n vreemde crowd. Dit kom toe so half uit dat die mense al heeldag vir ons sit en wag, en ons daag eers op om tweeuur te begin speel.

Die probleem met mense wat sit en wag vir ‘n band om te begin, is dat hulle uit blote verveeldheid begin brannewyn-en-kouk drink. Die Rawsonville distrik is juis berug vir hulle ongewenaarde vermoë om brannewyn te drink.

Toe ons nou uiteindelik, in hulle perspektief, om twee-uur die lug vul met ons gejuig, is die manne lankal nie meer lus vir dit wat ons graag vir hulle wil speel nie. Hulle soek die Leeuloop.

Geen selfrespekterend rockband uit die Groter Bolandstreek kan die leeuloop speel nie, trouens, ek dink nie enige een van hulle WIL die leeuloop speel nie. Die akkoordstruktuur is net van so aard, dat ‘n Bolandse orkes dit glad nie kan bybring nie.

Daar was een spesifieke oom wat rerig die leeuloop wou hoor. Hy het kort-kort vir ons ‘n vars dop van die kroeg se kant af laat kom, onder die voorwendsel dat ons die leeuloop vir hom speel. Ons het toe maar later van die pap wat so reën begin skep, want die ys het begin smelt, en ons het juis so ietsie nodig gehad. Onwetend, het ons toe ‘n bindende kontrak geteken.

Heelwat later, toe die oom nou al effens warm onder die kraag (en elders) is, en ons hom finaal oortuig het dat ons nie die leeuloop kan, of wil, speel nie, het die oom en sy splinternuwe Nokia op die verhoog geklim, die stomme selfoon in die mikrofoon gedruk en baie selfvoldaan die leeuloop vanaf sy selfoon oor die luidsprekers laat dawer. Die hele leeuloop.

Mens moenie ‘n gegewe brannewyn in jou bek druk as jou selfoon nie die leeuloop kan speel nie.

Thursday, March 19, 2009

Die Labrador

Die meeste kinders ontgroei so rondom puberteit hulle allergieë. Ek, aan die ander kant, het op die rype ouderdom van 25 nog nie ontslae geraak van die kruis wat allergieë is nie.

Dit gebeur dus soms sonder waarskuwing dat my bors toegaan, ek onbeheersd begin nies, dat ek wild begin krap, of die ergste, dat my oë bottoe swel. Laasgenoemde lei (ly) dan tot tydelike blindheid.

Dit sal nooit gebeur terwyl ek doodrustig by die huis sit en chill nie. Dit sal altyd manifesteer op die mees ongeleë oomblik, soos as mens sit en fliek saam met ‘n mens se splinternuwe girlfriend, of as mens wil ry om te gaan goed koop om te kan braai.

Gewoonlik swel my oë net toe as ek per ongeluk ‘n neut ingekry het. Mens kan dan rerig niks daaraan toe nie. Dis heeltemal onmoontlik om oogdruppels is in jou oë te kry as hulle so toe is. Dis ook te seer is om hulle te vryf. Die beste is maar om te gaan slaap, jou oë is in elk geval reeds toe.

So, ek probeer al baie jare om ‘n suksesvolle musikant te wees. Elke jaar gaan ek (ons) KKNK toe, met die hoop om die groot break te vang en famous te word en op te hou werk. En elke jaar spandeer ons baie tyd aan mense ontmoet, met die hoop om daai magic kontak te ontmoet. Al wat ons dan kort is ‘n hit en dan is ons daar. Dis mos maklik.

Een van die aktiwiteite op hierdie trippies van ons, behels die inname van ‘n sekere Duitse kruielikeur. Hoewel hierdie spesifieke likeur wondere verrig vir allerhande kwale, soos byvoorbeeld stage fright, maagkwale en gebrek aan gees, het dit ook, blykbaar, die newe-effek dat dit motoriese vaardighede en goeie oordeel inhibeer.


Een laataand, in ‘n bekende restaurant in die Volstruisdorp, kry ek op een of ander vreemde manier ‘n neut in, en my oë swel bottoe. Gelukkig het ek nog my sonbril by my van die middag af, en ek sit toe sommer dié op. Ek wil mos nou ni die mense uitfreak met my oë nie, verstaan?

So terwyl ek besig is om soos Bacchus Nel – nie Ray Charles nie, hy speel klavier – te sit en lyk, word ek deur my neef, Etienne ontdek. Heel toevallig, want ek het sit en hoop iemand kry my daar. Etienne het toe ‘n lang sug gegee en vir my ‘n vars dop gaan koop om my besig te hou terwyl hy die res van die orkes loop soek.

Om gelyk blind en effens onvas op jou voete (verwys na die Duitse Kruielikeur) te wees is ‘n uiters surrealisties ervaring. Ek verstaan nou hoekom Jamie Fox so rondgeval het in die fliek. Mens kan nie sien waar jy loop nie. En mens besef nie hoe ongelyk grond is, voor jy nie eers blind is nie. Mens ontwikkel later die kuns om net elke derde keer te vloek as jy jou toon teen die geringste klippie, drumpel of worshond stamp.

Ek het begin navorsing doen oor hoe goed die Duitse kruielikeur werk vir toe oë, maar ek kon tot op hede nog nie enige noemenswaardige gevolgtrekkings maak nie. Om ‘n lang storie kort te maak, toe Etienne uiteindelik die hele orkes en vir my op dieselfde plek het, het ons begin aanstryk tentedorp toe.

Ek het bewus geraak daarvan dat dit nie net ons was nie. Ek vermoed ons vriende van Die Helde en Zinkplaat het ook saamgeloop. Daar was ook ‘n klomp meisies, wat ek heelaand nie gesien het nie, wat ook loop en lag het.

En soos wat ons loop, begin die ander mense gat maak met my. Hulle het allerhande posters om my nek gehang, my in pale vasgelei en dan wild askies gevra, of hulle “vergeet” om my te sê van die sypaadjie en dan wetter ek neer ensovoorts ensovoorts. Ek het later nie meer hoop gehad om te lewe tot ek die dag doodgaan nie. Ek was heilig oortuig die bliksems sal my voor ‘n kar ook ingooi.

Hoe meer hulle die arme blinde man (dis nou ek) martel, hoe meer mens loop saam. Die een lot wil hulle doodlag en die ander lot wil hulle doodskaam, en ek vrees vir my lewe. En ek hoor net kort-kort ek net, haai shame, moenie so lelik met Bacchus Nel wees nie! Dan sê die lot wat lag, nee man, dis Kaalvoet van Dikazzins, en dan begin die skaam spul ook lag. Dan lag almal, tot daar weer ‘n klomp skames opdaag.

Asof dit toe nou nie erg genoeg is nie, keer die polisie ons toe voor. Of ek dink dit was hulle, want dit het so geklink. Ek slaan toe onmiddelik in ‘n sweetjie uit, want ons is net die vorige week, toe ek nog kon sien, gearresteer vir “oproerige gedrag en publieke urinasie” en die polisieselle is verseker geen plek vir ‘n blinde man nie.

Maar toe sê die polisieman, menere, WAT GAAN HIER AAN?

Anton Angsaanval, ons trommer, verduidelik toe” Sersant, ons het sy Labrador verloor. Het julle hom nie dalk gesien nie?”