Monday, March 30, 2009

Die Brandklub

EK hou nog steeds vol dat die beste stories van die Noordkaap af kom. Die stories was natuurlik almal op 'n kol waar, maar feite vervaag mos met tyd saam.

Daar was benewens die rolbalklub, die kommando en die boerevereniging, ook die Brandklub op Calvinia. Die brandklub het weekliks geoefen om brande te blus. Hulle sou gereeld regte brandweermanne kry om hulle bietjie touwys te maak met verskillende situasies, en dan die spul op die skougronde oefen met kammavure.

Gewoonlik daarna het hulle vergader in die hotel om verskillende logistiese kwessies te bespreek. Aangesien die klub meestal uit boere bestaan het was die eerste probleem natuurlik oor hom om almal te laat weet van die brand. Plaaslyne is dikwels onbetroubaar, en dit was voor die dae van selfone. Die tweede kwessie is die reaksietyd, want 'n bakkie kan ook net so vinning stap, en die paaie is nie orals ewe waffers nie. Die omvang van die probleem was natuurlik van so aard die vergaderings dikwels tot laat aangehou het.

Die manne se vrouens het natuurlik nie die storie van die Brandklub geglo nie, en soos wat vrouens nou maar is, die mans onmiddellik beskuldig dat dit net 'n verskoning is om te drink. So erg was dit later dat die manne begin wens het vir 'n brand, net om die vrouens te oortuig dat die klub wel meriete het.

Een Saterdagmiddag ontstaan 'n brand in die Poskantoor op Calvinia. Die posmeester bel toe dadelik die Brandklub se kantoor, die Hantamhotel. Die voorsitter van die klub, die kroegman, tel op en luister so rukkie voor hy opgewonde antwoord: "Ja, ja! Hou jy solank die brand aan die gang, ons kyk gou die rugby klaar, ons is nou daar!"

0 comments: