Sunday, March 29, 2009

Toe Dikazzins gaan skree het

Dikazzins had op 28 Julie, in die jaar van Onse Here, 2007 die groot voorreg om te headline by 'n rockfees in Klapmuts, genaamd die Screamfest.

Dikazzins het oor die jare heen naam gemaak as 'n band met deursettings vermoë en ongelooflik baie gees, 'n stelling wat bewys word deur die ondersteuning wat die band geniet in verskeie oorde. Hulle word gekenmerk deur 'n ongekunsteldheid wat uit beide hulle optrede sowel as hulle musiek duidelik blyk. Die neefs is mens-mense.

Soos wat die tyd aangaan, en ons meer inligting oor die betrokke fees ingewin het, het die spanning al hoe meer gelaai. Eerstens, organiseerders verkies normaalweg om dikazzins nie laaste te laat speel nie, eerstens omdat hulle 'n crowd tot hulle voete dwing, tweedens om die mense vroeër daar te kry, en derdens, omdat die neefs heeltemal te veel "gees" vang om te kan speel laataand. Tweedens, dikazzins speel ten beste hardcore country en dit blyk toe dat al die ander bands daar metal bands is. Ek weet nie hoe hulle 'n Rooiwynrockband kan laat headline by 'n metalshow nie, maar dit daar gelaat.

Ons het toe maar eers op my vader se plaas gaan braai, uit naakte vrees vir wat kom. Ons set sou 11uur begin en die ouman boer amper langs Lanners Landing. So tienuur se kant, toe ons die meeste van die wyn opgedrink het, sien ons toe nou kans vir die metaalfees waar ons moet gaan blues speel. Anton en Charl glip gou weg om hulle girlfriends te gaan haal en ek en Etienne wag vir Charl om ons te kom oplaai. Halfpad Klapmuts toe sms Anton vir my:" Ou, dit klink of hulle katte offer hier binne".

Daar gekom, word ons begroet deur 'n see weird mense, soos wat jy nie eers op 'n goeie aand in Mystics op Stellenbosch sou kry nie. Daar is piercings deur allerhande plekke, vreemde haarstyle, eyeliner, buckles en zips en clips en boots met buckles en so aan. Uit die saaltjie ("die grot") waar die "fees" is kom daar 'n onaardse geskree. Dit het so bietjie geklink soos 'n hees kat in Augusmaand. Later sou ons hoor dat dit is hoe dit werk in 'n metal band. Ons het toe maar weereens by die bar gaan sit en try gees vang, maar selfs Jagermeister wou nie die truuk doen nie. Ons het toe uiteindelik die stage net so voor middernag geslaan.

Die helfte van die crowd het uitgeloop met ons eerste note en die res was taamlik verward. Ek was baie danig vir paar wat probeer headbang het op 'n Lee Bottel Tas, maar selfs hulle het later die stryd gewonne gee. 'n Akoestiese song in 3-tyd verleen homself net nie daartoe nie. So drie liedjies in die set in was daar die mense oor. Ons het toe maar afgesluit met 'n raserige rendition van 9mm blues en verkas huistoe.

In retrospek dink ek die mense kon seker nie verstaan wat die akoestiese kitaar op die stage doen nie en hoekom hulle kan hoor wat Etienne sing nie. Hulle kon seker ook nie verstaan wat Etienne met sy topboots op stage doen en hoekom ek nie skoene aanhet nie. En die ergste is, hoekom Dikazzins is nie in swart geklee nie.

Ons was heel uitgefreak en ek dink die crowd ook. Dikazzins gaan nie in die nabye toekoms weer by 'n metalfees headline nie. En net vir good measure het ons vir so rukkie net by VLV-byeenkomste, damesoggende en moet-troues gespeel, net om ons siele te laat bedaar.

0 comments: