Monday, March 30, 2009

Bo blink, maar die hoofseun se bed stink

Die laaste ruk in matriek is mos maar 'n wilde affere. Ek en my maatjies het heelwat meer tyd in die dam agter Marine se huis deurgebring as agter die boeke. Vir een of ander rede het ons almal ook verwoed skaak gespeel in die eksamen. O, en natuurlik was daar middernagtelik uitstappies Footloose toe, en soms het die aktiwiteite sommer na ligte-uit in die koshuis plaasgevind. Een van die legendes in Imhoff handel juis oor een van die na ligte-uit paarties op Imhoff se boonste vloer.

Imhoff se boonste vloer is meestal deur matrieks en so een of twee uitgelese standerd 9's (graad 11) bewoon. Die toegang tot die vloer was beperk tot een trap. Mens kon dus enige Mens van Gesag op 'n myl hoor aankom. Gevolglik was die boonste vloer die plek waar al die onheil gebroei het.

Een spesifieke nag het die manne weer paartie gehou met proviand wat by die International Hotel by die stasie bekom is. Die aand het dinge weer oop geloop op die vloer. Die manne wat rook moes buite rook, vir ingeval Bewer (die koshuisvader) besluit om om te loop. Almal het ook vodka gedrink want mens kan dit kwansuis nie ruik nie. Iewers deur die loop van die aand pass die hoofseun uit. Die manne het hom toe op sy bed gaan los en verder geskep.

Of Bewer die manne bekruip het, en of Vodka mens doof maak, sal ek nou nooit weet nie, maar toe die manne weer sien, staan Bewer die deurkosyn toe.

Bewer sit natuurlik toe 'n keel op, van matrieks wat uitrafel, en wat gaan hulle ouers se as hulle geskors word, en die res van die koshuis slaap en nou raas die matrieks so, en dis die mees ongemanierde groep wat hy nog ooit die twyfelagtige voorreg gehad het om in sy koshuis te huisves, en as hy nou sy lat gehad het, het hy almal gemoer. En hoekom kan almal nie soos die hoofseun gaan slaap nie. Hy stel mos nou 'n goeie voorbeeld.

Gelukkig ruik vodka nie, anders was die manne seker oor die gedrinkery ook in die moeilikheid.

0 comments: