Saturday, June 20, 2009

Johannesburg is vir Johannesburgers

Ek het nou die dag iets gelees oor wat hulle noem rusbank-reisigers. Dis mense soos ek wat reis en op vriendelike mense se banke slaap en dan verder gaan.

Nou, ons Kapenaars raak mos ongemaklik as ons meer as 100km van die see af. Ek was dus merkbaar op my senuwees toe my bra Die Digter my laat weet dis nie 'n Dronkwordspruit waar ek by hom gaan kuier nie, maar sommer by se broer se huis in Kemptonpark. Kempton is nie die tipe plek waar Kapenaars as 'n reel gaan vakansie hou nie.

Die Digter se broer bly in Esselenpark by die spoorweg universiteit. Dis waarskynlik die laaste vesting van die 80's en die laaste oorblyfsels van die ou NP-koninkryk. Die plek herinner my baie aan daai Overvaal parke (wat deesdae Aventura is) en is kompleet met die siersteenhuise met die leiklipdakke, soos wat dit die Spoorweg betaam. Die huis is almal gemeubeleer in die eg Verwoerdiaanse styl. Dis so The Jetsons-vibe. Die meubels is rond en die huis is skerp. Ek is eintlik dankbaar ek kan so min van die 80s onthou.

Dit was 'n heerlike kuier eintlik. Ek het selfs by tye vergeet dat ek so ver van die see af is, behalwe toe ons gaan wyn koop het en 99.8% van die wyn is soet. Gelukkig was daar heel agter in die winkel 'n spesiale rak vir Kapenaars en toe is daar bietjie droe wyn vir my. Die Digter se skoonsus se pot was heerlik en ons het lekker gesels.

Die Digter en sy wyfie het my aan die einde van die volgende dag gaan aflaai by OR TAMBO waar ek toe 'n First Car Rental kry en by my vriendin, die trouvrou reg in die middel van Mellville gaan kuier het. Haar stoep kyk uit oor Randburg en Sandton se torings versier - versuur - haar skyline.

Ek moes geweet het hier kom kak toe ons begin karre rondskuif in haar erf sodat die hijackers nie my First Car kan vat nie. Die tweede teken wat ek gemis het is daar haar kerel die varkfillet opmaak en hy gesels saam. Ek en haar kerel moes toe onmiddelik nog wyn gaan uitsmokkel uit die Bohemian, die nabygelee kroeg. Die trouvrou se inhouse sjef het toe 'n wonderlike dis uit hoender uit getoor en ons kon darem met vol mae en koppe gaan slaap.

Nog in ding van Jozi wat my irriteer is dat dit selfs in die winter 5uur lig raak. Oom Koos Myburgh het altyd gese dit maak nie saak hoe donker dit nog 10uur in die oggend is nie, dan moet 'n man darem begin dink aan opstaan. Jozi gun mens egter geen kans nie. 5uur is die lig, en dan ry almal onmiddelik werk toe (en begin dadelik kak emails vir ons in die Kaap stuur. Ek is party oggend so ontsteld dat ek nie my derde koppie koffie om 09h00 kan inkry nie).

Toe ek nou in die ware Jozi-manier 7uur wakker word en besef dat ek in iets soortgelyk aan Folsom Prison toegesluit is, toe trek my Kaapse bors op 'n knop en ek begin ly aan 'n erge geval van engtevrees. Ek storm toe by die trappe op en kry die stoep se sleutel in die hande. Ek kry met my bewerige hande en beklemde bors uiteindelik die stoep oop en stap uit en trek my longe van van Jozi se lug. Nou nie my favourite asemteug nie, maar te minste is ek uit die tronk.

Terwyl ek daar staan pluk die hele huis sy moer suur vir my en begin skel. Ek waa nog besig om jammer te se oor ek die huis ontstel het, toe kom hensop ADT my. Ek moes toe mooi beduie dat ek wou uit en nie wou in nie. Gelukkig het die Trouvrou darem kom se ek mag daar wees. En dit alles voor my eerste koppie koffie. Ek was baie bly toe ek terug is op daai groen errie af Kaap toe.

Dis rerig moeilik om ek te wees. Dit vat partykeer heel dag.