Wednesday, May 20, 2009

Naakte vrees

Ek is nie rerig 'n bang ou nie. Behalwe vir vleissae, om my naeltjie skoon te maak (waar kom daai wolletjies vandaan?) en kinders was daar tot redelik onlangs niks waarvoor ek bang was nie.

Maar die laaste ruk skrik ek snags in angs en bewing wakker, en dan moet 'n ek 'n moerse klomp tee drink en vervelige stories kyk om weer aan die slaap te raak. Ek het aanvanklik gedink dis miskien stres, want my pa le altyd so wakker as dit nie wil reen nie. My bra Hanru, die sielkundige, het my egter laat verstaan dat musikante nie rerig kan stres nie. Ons gee glo genoeg uiting aan ons gevoelens, of drink genoeg wyn of so iets. Ek het ook gewonder of dit nie miskien insomnia is nie, maar ek twyfel. Ek is te lui om aan iets te ly.

Anyway, nou die aand sit ek by my buurman en teug aan 'n wyntjie toe hy my vertel van die 27 Klub. Dis 'n lang lys van musikante wat dood is op 27. Robert Johnson, Kurt Cobain, Jimi Hendrix, Janis Joplin, Jim Morrison en Brian Wilson. Dis toe dat dit my tref: Ek word in Julie 27.

Maar dis nie net dit nie. 'n Moerse lot musikante is in vliegongelukke dood: Otis Redding, John Denver, Jiim Croce, Stevie Ray Vaughn, die helfte van Lynyrd Skynyrd, Buddy Holly, ricky nelson en jim reeves. Daar is ook 'n ellelange lys van musikante wat dood is as gevolg van alkohol. En ek hou van wyn drink op vliegtuie.

Soos wat dit is weet ek nie eers of ek 26 suksesvol gaan voltooi nie, benewens my motorongeluk, moes Ruannette die Engel 'n ambulans bel oor ek besig was om te dooi op haar troue, en ek het twee keer amper in my moer gebrand by my huis.

Nou wat as my engeltjies een dag, terwyl ek 27 is, strike? Die odds is duidelik teen my.

"It's not about the odds of dying. It's about the way you die. I've always said that I'm not dying with tourists." - actor Billy Bob Thornton

0 comments: