Sunday, March 29, 2009

Oom Nugterdaan

Die presiese feite van hierdie storie het my nou so half ontgaan, maar ek kan darem nog genoeg onthou van dit wat my Oom Willem my so oor 'n glas vars Three Ships op sy knie vertel het.

Ek het familie wat kom van Bethal af. As ek dit storie reg het, het Bethal in daai stadium net twee strate gehad: Die Hoofstraat, waarskynlik Voortrekkerweg of Van Riebeeckstraat, en Kerkstraat. Soos wat die tipe dorpe ook deur die bank werk, is die kerk en die ladies bar nie ver van mekaar af nie.

Op Bethal het 'n Oom Nugterdaan gewoon. Nodeloos om te sê, kom om Nugterdaan se naam nie van sy sobere gewoontes af nie. Die ding is, Oom Nugterdaan het aandele gehad in die ladies bar.

Smiddae, net na die laaste trein van die stad se kant af in die stasie ingestoom het, dan het oom Nugterdaan loop gekry na die ladies bar, waar hy en die Van Rhyns van Stellenbosch dan bietjie aan die gesels geraak het. Laatnag, as die Van Rhyns nou die argument gewen het by wyse van spreke, stryk oom Nugterdaan aan huistoe.

'n Dorp soos Bethal, wat net twee noemenswaardige strate het (of gehad het, ek weet nie hoe die plek nou daar uit sien nie), is die tweede straat altyd loodreg met die eerste een. Oom Nugterdaan moes met ander woorde by die kerk skerp links draai en aanstryk huistoe..

Hy het so manier gehad om sy regterhand in sy baadjiesak te druk en dan met 'n gebalde vuis sy duim in die rigting wys waarheen hy graag wil loop. Met so tipe van 'n geberedeneerde skuifelstap, sodat die mense nie moet sien oom Nugterdaan is dronk nie, vat Oom Nugterdaan die pad.

Die jaar toe Klein Daantjie, Oom Nugterdaan se jongste spruit, uitklaar uit die Army, was daar nie baie werk oor vir sweisers op die dorp nie, want die Spoorweë het nie meer so goed gedoen nie en dit was voor die jare toe werklose sweisers hulle heil in sekuriteitshekke en palisade-heinings kon vind. Klein Daantjie het toe maar aan vir aan saam met sy pa, Oom Nugterdaan, slaags geraak met die Van Rhyns van Stellenbosch.

Aand vir aand sal oom Nugterdaan en Klein Daantjie dan nou saam stap, Oom Nugterdaan met sy regterduim wat die rigting aandui vir die skuifelstap, en Klein Daantjie so aks agter hom, met dieselfde stap wat hy by Oom Nugterdaan afgekyk het. Al verskil is, Klein Daantjie was links, so hy het andersom as Oom Nugterdaan geskuifel. Net so voor die tuinhekkie sal Klein Daantjie nou effens terughou, sodat Oom Nugterdaan eerste by die hekkie kan inloop.

Oom Willem kon my dalk gesê destyds, maar presies wat die spesifieke aand gebeur, skiet my geheue nou te kort. Ek is vermoed dis na Klein Daantjie se mondigwording, maar die een aand, toe die hekkie nou in sig kom, begin Klein Daantjie so aks vinniger loop om nou voor Oom Nugterdaan by die hekkie in te loop. Die klong het mos nou kwansuis man geword.

Oom Nugterdaan, natuurlik van die ou skool waar kinders laaste by hekkies inloop, was natuurlik nie te vinde vir die nuwerwetse idee nie en begin self aanstaltes maak vir die hekkie. So skuifel die twee al hoe vinniger aan na die tuinhekkie toe, maar net so voor die twee gelyk by die hekkie aankom, stamp Klein Daantjie vir Oom Nugterdaan dat hy in die privot heining val. Klein Daantjie, heel ingenome met sy prestasie, gaan slaap toe in sy agterkamer van die spoorweghuisie waar hulle woon.

Ek weet nie of een van julle al probeer opstaan het uit 'n privot heining nie. As mens jouself probeer opdruk, dan gaan die takke pad, met die gevolg dat jy net bietjie dieper in die privot heining insak. Die prosedure is natuurlik heelwat as 'n man se koördinasie effens aangetas is oor jy met die Van Rhyns te doen gehad het.

Oom Nugterdaan het toe later van pure uitputting net so in die privot heining aan die slaap geraak. Toe Oom Nugterdaan met hanekraai in die heining wakker word, spierwit van die ryp, en die meerderheid van sy motoriese vaardighede aan hom terugbesorg is, vlieg Oom Nugterdaan soos 'n jong man uit die heining uit en gaan donner vir Klein Daantjie met die horswip.

Ons familie het so sêding: Mens los nie jou pa in die privot heining nie.

0 comments: