Thursday, April 23, 2009

Oor toustaan

Ek verstaan dat toustaan mode is in lande soos Engeland. As daar twee ouens per ongeluk in agtermekaar staan, sou daar 'n derde agter hulle inval, en voor jy kan se tou, is dit 'n volwaardige tou.

Toustaan in Engeland is niks soos in Suid Afrika waar jy kort-kort op jou horlosie loer, en dan sug en soms 'n gekruide woord uiter nie. Niemand kla daar oor "swak diens", "tipies Nuwe Suid Afrika" en so aan nie. In Engeland is toustaan 'n kultuur op sy eie, my sy eie etiket en hierargie.

As jy toustaan moet jy elke duim wat jou toegelaat word vorentoe staan, sonder om in die ou voor jou se aura in te beweeg. Jy moet wel oppas dat jy nie per ongeluk buk nie, wat die ou agter jou sal die spasie opneem, en so ook al die mense agter hulle en dan staan die hele ry naend gebuk. Niemand hou ook van die ou wat 'n gaping in die tou los sodat daar mense kan deurloop nie.

Die ou wat voor in die tou staan is soos 'n opperwese. Almal is jaloers op hom, maar eintlik bewonder hulle hom. 'n Ou wat al voor in die tou is, het duidelik lank terug in die tou begin staan, en nou, op hierdie laat stadium, is hy voor. Hy het as't ware die hoogste sport bereik in sy toustaanloopbaan. As jy die ou voor in die tou kan sien, dan geniet jy ook redelik status. Jy is weet dan duidelik waarheen jy oppad is, en jy is 'n voorbeeld vir die mense agter jou in die tou. As jy die mense kan sien wat die ou voor in die tou kan sien, is jy ook bitter belangrik. Jy is dan soos die werkersklas, die mense wat eintlik die tou aan die gang hou, en die ouens voor in die tou waardeer dit, want hulle weet dat sonder jou sou hulle prestasie niks beteken het nie.

Ek was een van daai mense wat nagelaat het om sy geweerlisensie te hernu. So bevind ek my in Paarl se polisiekantoor in 'n ry van baie mense. En niemand daar is i 'n goeie bui nie. Almal is kwaad vir die system en die blerrie Nuwe Suid Afrika. En in sulke lang tou, wat baie stadig beweeg ontwikkel daar gereeld sulke komplotte en sameswerings. Ek het baie van die gerugte begin net om te sien wat gebeur. Dikwels het my gerug totaal verdraai by my uitgekom.

Die gemoedstoestand van die mense gaan ook kollektief op en af. Daar is so geskerts, en dan raak die mense al hoe meer die moer in tot daar 'n stilte heers. Dan iewers sal iemand 'n grappie maak en dan begin die siklus van voor af. En so het dit vir al 8 ure wat ek in die tou was aangegaan.

Waar Suid Afrikaanse toue verskil, is hoe mense mekaar kom aflos in die tou, en hoe die tannies vir die ooms kos bring terwyl hulle wag.

My eie moer was redelik suur vir myself, want ek moes al 9 maande voor daai gewraakte dag (wat vir die Ingelse heerlik sou wees) my lisensie hernu het. Twee oomblik het my darem laat giggel. Daar was 'n oom so ent voor my wat sy moer duidelik gestrip het en uitgeloop het. So halfuur later was hy terug met so Pepstores kombers vol gewere. Hy het die bondel op die toonbank neergesit en diep geirriteerd vir die ou agter die toonbank gevra: " NOU WAT MOET EK MET DIE DONNIGSE GOED MAAK?"

Die ander was toe die couple met die pram uitgestap kom en iemand merk terloops op: "Maar hulle is mos sonder die pram hier in?

Monday, April 20, 2009

Die meeste mense is maar lekker zef

Op die rock&roll highway het ek al telkens besef, die lewe is klein bietjie fucked up. Valiant sing mos, die meeste mense is maar lekker zef, maar dis nie net dit nie.

Ons word almal groot, of so wil ek glo, met een of ander droom. Of jy wil 'n brandweerman word, of eendag kan vlieg, of in my geval, dieselfde kitaar as daai oom van Led Zeppelin he. Dit blyk egter, vir welke rede ookal, dat hierdie drome in die meeste gevalle vervaag en op die ou end opgaan in een of ander brandewynwolk. Ek wil graag glo dat die meeste mense nog steeds 'n droom het, al is dit bloot om 'n groter TV te koop, of om groter subs agter in sy Cortina in te bou. Vir my is dit 'n klomp kak drome, maar dit gee darem die lewe so bietjie rigting.

Daar is egter baie mense wat geen droom meer oor het nie, vir wie die lewe verbyvloei soos soos 'n nimmereindige rivier. Dis een van die goed waaroor ek en Etienne tot in die vroeg in die oggend rondom 'n bottel rooiwyn oor sit en wonder het. Ek kon nie verstaan hoekom mens wil opstaan as jy niks het om te doen nie, tot Landon la Grange my een oggend oor 'n koppie koffie beduie het, you know what KJ, 80% of people just wanna make a living. En toe het dit vir my begin sin maak.

Dikazzins was baie op die Weskus getoer. Maar ons laaste toer daarheen, seker omtrent twee jaar terug, het my sprakeloos gelaat vir die res van die week. Dit was 'n langnaweek aan die einde van Juniemaand. Die vissermanne was af en vol geld en dit het gereen. Toe ons laatmiddag die dorp binnesak, toe trap die hele dorp al hoog. Nou kyk, 'n brannewyndronk is mos 'n ander dronk. Jy is baie energiek, en baie bakleierig.

So paar insidente:

  1. Die polisie het die band twee keer halfpad deur die song gestop om die ergste fights te stop en die bakleiers selle toe te vat.
  2. Die bestuur van die venue het ons so keer of wat gevra om iets rustig te speel sodat die mense kan afkoel
  3. Ons het drie keer in die middel van 'n song gestop om ou wat met sy kop tot in die drumset geval het af te moer van die stage af, en die monitors, speakers en mikes weer regop staan te maak.
  4. Iemand het probeer om Charl se baskitaar te steel terwyl hy gespeel het.
  5. Iemand het geval voor die stage, en toe het iemand hom uit te bloute begin bliksem. Die ou wat aan't slaan was, het so effens belangstelling begin verloor en toe op sy meisie geskree wat kwansuis sy dop sou omstamp. Toe sy wegstaan van sy dop af, het het verder geslaan aan die ou onder hom.En om alles te kroon, was die twee so 10min later weer hard aan die kuier, salig onbewus dat hulle vroeer baklei het.
  6. 'n Ander kalant het handeviervoet langs die kroeg geval. Sy beste pel tree so drie tree terug en plant 'n netjiese uppercut op sy neus.
Ek en Etienne het die Sondag in stilte teruggery Stellenbosch toe. Ek dink ons was al verby Malmesbury toe ek vir die eerste 'n sagte "fokkit" ge-uiter het. Etienne het net sy kop geskud.

Saturday, April 18, 2009

Oom Maans se Roeping

Die kerkstories is eintlik snaaks. Klapmuts se kerk is moes so paar jaar terug gerestoureer word. Dit was hier in die vroee 80's met die droogte, so die gemeente het dit nie breed gehad nie.

Na 'n paar basare en so skuurdans of twee (my pa'le kon daardie tyd enige behoeftige uit die nood dans, en as hulle enkels eers lekker nat is, dan gaan dit soveel lekkerder) kort daar nog so los R 50 000 om die restourasie te voltooi. Die leraar van die tyd besluit toe dat mens nie 'n kerk kan regmaak deur middel van danspaarties nie. Hy bele toe 'n moerse biduur en die kerk.

Die aand bid die dominee droewig, en kort-kort as een van die gemeente nou begin skuldig voel, dan sal nou ongemaklik opstaan en iets se soos, dominee, ek voel geroep om so R500 te gee. Ag, en so het dit aangegaan.

Die eintlike doel van die biduur, en dit het almal geweet, was om vir Oom Maans te laat skuldig voel en te skenk. Want Oom Maans is van die Louw's en die Louw's was al die jare nog taamlike welgstelde mense. Maar Oom Maans het net stip voor hom uitgestaar - hy kan nie sy oe toemaak onder gebed nie, want hy raak duiselig na sy middeloorinfeksie van ses jaar terug. Die hele gemeente het later vir hom begin kyk, want hy kon as't ware die kerk op sy eie oordoen. Maar al wat gee is Oom Maans.

Op 'n kol, toe die dominee se droewige gebed weer so klimaks bereik, kom 'n stuk pleister los en val op Oom Maans se kop. Oom Mans staan toe so statig op en se, Dominee, ek voel geroep om darem so R15 000 te gee vir hierdie edele saak.

Ek verstaan dit was Oom Willie wat toe van agter uit die kerk af gebid het : O Heer, o Heer. Tref hom weer!

Oom Vaaljan en die sending

Die Bolandse platteland was 'n interessante plek om op groot te word. Ek was eintlik so op die rand van die Boland en die Swartland, met die een helfte van die plaas onder wingerd en die ander helfte onder koring.

Braaie was dus interessant in die sin dat die koringboere almal KWV en kouk gedrink het en die wingerdboere meestal wyn. Daar was dus gereeld allerhande onderstrominge en dan moes daar vervaard bidure gehou word en hard gepreek raak van die kansel af. Maar die kwaaivriendskap het gewoonlik nie die week oorleef nie.

Daar was wel 'n oom, Oom Vaaljan, wat soos my oupa telkens gese het, skuins teen die grond bedonnerd was. Die Agter Paarl was vol Janne, Oom Langjan, Oom Bruinjan, Oom Rooijan, Oom Jantooi (my oupa), Oom Jan Baadjiepunte, Oom Jan Testament, Oom Jan Baaipaas en Oom Jan Omkyk. Dis die dat my ma my Kaalvoet genoem het, en nie Jannie nie.

Maar, ek dwaal af, Oom Vaaljan het geweier om vir die sending te gee. Want hy gee nie vir mense wat plase afbrand en vee steel nie. Die kerkraad het dit maar later so aanvaar, want hy het wel ruim geskenk vir die armes.

Tot een oggend, toe my pa-hulle staan en basaargeld tel, stap oom Vaaljan in die konsistorie in en se dat hy besluit het om drie skape en 'n melkbees vir die sending te gee. Die dominee was natuurlik verheug oor dit en het dadelik verneem oor wanneer hulle die lewende hawe kan kom haal.

Nee se oom Jan, hulle het dit klaar kom haal gisteraand, dominee moet dit net deur die boeke sit.