Rock&roll toere is eintlik vreemde goed. Al wanneer jou aandag rerig verlang word is die halfuur wanneer die sound engineer na bewering die klank toets, en die rukkie wanneer jy speel. Die res van die tyd loop jy die gevaar om van verveling dood te gaan.
Elke toerband het sy manier om die tyd om te kry. Zinkplaat speel sokker, die Sunrise toffies speel poker, en dikazzins swem. Maar swem is ook net vir 'n rukkie lekker en dan is daar nog 'n klomp tyd oor voor die soundcheck.
Gareth Cliff het 'n wyle gelede op die draadloos gese dat PE die oksel van Suid Afrika is. Ek kan nie anders om met hom saam te stem nie. Ek was vir 'n wyle gereeld op PE om my brood te verdien (aangesien niemand nog weet my band is famous nie) en sover ek kan agterkom is die enigste cool goed in PE St George's Park en die dolfyne. O, en ook die N2 en die 5uur vlug Kaap toe.
Op een of ander toer - al die toere voel later dieselfde - sak ons een oggend vroeggerig in PE in. Na ons die hele oggend min of meer in die Wimpy verwyl het (al was die milkshakes suur) het ons toe ons amptelike tydverdryf aangedurf. Dit was naby aan nuwejaar en die see was baie vol. So besluit ons toe om liewer die dolfyne te gaan kyk.
Dit was vreeslik oulik. Die rob het daai bal geskop en vis gevreet en ek het my verkyk aan die nuwe rob-bewaarder (temmer, hanteerder, voerder, persoon...). Sy was duidelik nie van PE af nie. Uiteindelik kom Dolly en trawante daar aan. Dolly is volgens my eie skatting omtrent 50 jaar oud, want my pa beweer hy het vir Dolly sien vis eet toe hy 'n laaitie was. Al ander verklaring is dat Dolly elke 10 of 15 jaar vervang word met 'n nuwe een (min of meer soos my budgie wat ek gehad het toe ek 5 was. Hy het gereeld vergeet hoe om te praat, dan moes ek hom weer leer. Donnerse budgies).
Dolly en haar laaitie het so bietjie gespring en ons het almal mooi hande geklap en dan kry Dolly vis. Dan hop sy deur daai hoepel, dan klap ons almal mooi hande, en dan kry sy vis. Dan swem sy 'n moerse hou van die oorkant af en spat almal nat.En ons klap mooi hande. En dan kry sy vis. Dan spring sy oor daai paaltjie, ons klap mooi hande, en dan kry sy vis.
Ek was dus glad nie verbaas toe Dolly die Colemannetjie met die vis in steel nie. Ek sou ook. Ek was net nie seker of ons moet hande klap of nie. Ek het wel onbeheersd begin lag.
Die res van die show was baie komieklik. Dolly en haar laaitie het daai Colemannetjie rondgegooi en al die vis opgeeet, terwyl die arme vrou haar fluitjie warm blaas en op die water klap.DShame. Dolly wou niks weet nie, wat ek ook kan verstaan, want sy het mos al klaar al die vis. Dit het my ook gepas, want ek was lankal gatvol hande geklap.
Ons het toe comps gekry vir die middag se show, maar hoe ek ook al gehoop het, Dolly het nie weer die Colemannetjie gesteel nie. Die aand se gig was ook kak.
Monday, March 30, 2009
Good bye and thank you for the fish
Posted by Nicol du Toit at 9:30 AM
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
0 comments:
Post a Comment