Saturday, March 28, 2009

'n Gegewe Brannewyn

Ons speel een naweek by ‘n Fees in die Rawsonville distrik. Ons en die local tandarts, wat ook sing, is die main act by een van die venues.

Weereens, dis maar ‘n vreemde crowd. Dit kom toe so half uit dat die mense al heeldag vir ons sit en wag, en ons daag eers op om tweeuur te begin speel.

Die probleem met mense wat sit en wag vir ‘n band om te begin, is dat hulle uit blote verveeldheid begin brannewyn-en-kouk drink. Die Rawsonville distrik is juis berug vir hulle ongewenaarde vermoë om brannewyn te drink.

Toe ons nou uiteindelik, in hulle perspektief, om twee-uur die lug vul met ons gejuig, is die manne lankal nie meer lus vir dit wat ons graag vir hulle wil speel nie. Hulle soek die Leeuloop.

Geen selfrespekterend rockband uit die Groter Bolandstreek kan die leeuloop speel nie, trouens, ek dink nie enige een van hulle WIL die leeuloop speel nie. Die akkoordstruktuur is net van so aard, dat ‘n Bolandse orkes dit glad nie kan bybring nie.

Daar was een spesifieke oom wat rerig die leeuloop wou hoor. Hy het kort-kort vir ons ‘n vars dop van die kroeg se kant af laat kom, onder die voorwendsel dat ons die leeuloop vir hom speel. Ons het toe maar later van die pap wat so reën begin skep, want die ys het begin smelt, en ons het juis so ietsie nodig gehad. Onwetend, het ons toe ‘n bindende kontrak geteken.

Heelwat later, toe die oom nou al effens warm onder die kraag (en elders) is, en ons hom finaal oortuig het dat ons nie die leeuloop kan, of wil, speel nie, het die oom en sy splinternuwe Nokia op die verhoog geklim, die stomme selfoon in die mikrofoon gedruk en baie selfvoldaan die leeuloop vanaf sy selfoon oor die luidsprekers laat dawer. Die hele leeuloop.

Mens moenie ‘n gegewe brannewyn in jou bek druk as jou selfoon nie die leeuloop kan speel nie.

0 comments: