Sunday, March 29, 2009

So blikkie samboksalf darem

My oom Leon was destyds landdros op Phillipstown en het my die storie vir die heilige waarheid vertel.

Daar was glo twee vreeslike lelike broers, ons noem hulle maar Isak en Fanie, vir die doel van die storie. Shame, die mense van die distrik het van Isak en Fanie Lelik gepraat, of soms net die Lelike.

Die broers het sulke dik lippe soos ‘n Bedford lorrie se tjoep gehad. Die lippe kon vreeslik bars. Dis soos daai wat Tolla vertel het destyds van die twee broers wat so sit en koffie drink in die oggend en vir mekaar …ôre …ôetie sê oor hulle lippe te seer is om die “m” en “b” klank te sê.

Oom Isak Lelik was ‘n gereelde kerkganger, maar Oom Fanie lelik het net vir geleenthede kerk toe gegaan – dope, troues, vendusies, nagmale, begrafnisse en die jaarlikse kerkbasaar. Die mense op die dorp het vir Oom Isak Lelik gewoond geraak, maar Oom Fanie Lelik het nog die kinders bietjie skrik op die lyf gejaag.

Die een spesifieke Sondag is Oom Fanie ook in die kerk vir die sesweeklikse nagmaal, en dis warm. Dis van daai dae waar die honde die katte jaag, maar altwee stap. Dis so warm, die sonbesies raas nie eers meer nie. Oom Fanie sit met sy vol manelpak in die kerk en hy sweet. En soos hy sweet loop die sweet in sy gebarste lippe in, en dit brand. Dit brand naand so dat so oë begin traan en hy die draad van die preek heeltemal verloor.

Kyk, Oom Fanie was ‘n goeie mens. Hy het jaarliks vir al wat ‘n welsynsorganisasie is gegee, behalwe nou vir die sending, want Oom Fanie gee nie vir veediewe en mense wat plase afbrand geld nie, nie hy wat Oom Fanie Lelik is nie. Oom Fanie het vanselfsprekend ook nie gereken dis reg laat ‘n man ‘n preek se draad so verloor nie, vernaam nie op nagmaal nie. Hy begin toe krap daar in Tante Berryl se handsak agter so blikkie samboksalf.

Tante Berryl het hom eers in die ribbes gepomp, want mens krap nie so in ‘n handsak in die kerk nie, dis onbetaamlik. Maar toe Tante Berryl nou eers die arme man se lyding sien, het sy hom laat begaan. Sy maar vanaand om vergifnis vra vir haar man se onbetaamlikheid.

Uiteindelik kry Oom Fanie toe die blikkie samboksalf beet en druk hom sommer so met die een vinger oop. Hy skep ook sommer diep, en smeer die koel lafenis op sy lippe. En hy smeer sommer oordentlik, net vir ingeval die lippe hom nou weer las gee.

Die dominee se preek bereik toe net ‘n klimaks en hy kyk sommer reguit vir Oom Fanie. Oom Fanie kom mos juis min in die kerk, en die stomme man behoort elke ons van die Woord te ontvang. Maar toe die dominee vir Oom Fanie lelik sien, begin hy onbeheersd giggel.

Oom Fanie is dadelik gesteurd, want watse lawwigheid is dit dan nou die? Kan die jong predikantjie van die Kaap dan nou nie oordentlik kerk hou nie? Hy het mos gesê hulle moes nooit vir Dominee Lewies laat gaan het nie. Die man het nou wel sy foute gehad, maar kerk kon hy darem nou vir jou hou. Oom Fanie Lelik kyk toe ewe ergelik om om te sien waaroor die dominee dan nou so giggel.
En daar, een-een, bars die hele gemeente uit van die lag. Die tannies het nog so eers begin terughou, maar keer was min. Teen die tyd lag die dominee al uit sy maag uit. Hy gil Amen en hardloop in die konsistorie in.

Want sien, as ‘n man nie kyk nie, voel Oom Fanie Lelik se blikke se samboksalf op ‘n druppel water na Tante Berryl se blikkie lipstiffie.

0 comments: