Saturday, April 18, 2009

Oom Vaaljan en die sending

Die Bolandse platteland was 'n interessante plek om op groot te word. Ek was eintlik so op die rand van die Boland en die Swartland, met die een helfte van die plaas onder wingerd en die ander helfte onder koring.

Braaie was dus interessant in die sin dat die koringboere almal KWV en kouk gedrink het en die wingerdboere meestal wyn. Daar was dus gereeld allerhande onderstrominge en dan moes daar vervaard bidure gehou word en hard gepreek raak van die kansel af. Maar die kwaaivriendskap het gewoonlik nie die week oorleef nie.

Daar was wel 'n oom, Oom Vaaljan, wat soos my oupa telkens gese het, skuins teen die grond bedonnerd was. Die Agter Paarl was vol Janne, Oom Langjan, Oom Bruinjan, Oom Rooijan, Oom Jantooi (my oupa), Oom Jan Baadjiepunte, Oom Jan Testament, Oom Jan Baaipaas en Oom Jan Omkyk. Dis die dat my ma my Kaalvoet genoem het, en nie Jannie nie.

Maar, ek dwaal af, Oom Vaaljan het geweier om vir die sending te gee. Want hy gee nie vir mense wat plase afbrand en vee steel nie. Die kerkraad het dit maar later so aanvaar, want hy het wel ruim geskenk vir die armes.

Tot een oggend, toe my pa-hulle staan en basaargeld tel, stap oom Vaaljan in die konsistorie in en se dat hy besluit het om drie skape en 'n melkbees vir die sending te gee. Die dominee was natuurlik verheug oor dit en het dadelik verneem oor wanneer hulle die lewende hawe kan kom haal.

Nee se oom Jan, hulle het dit klaar kom haal gisteraand, dominee moet dit net deur die boeke sit.

0 comments: