Sunday, March 29, 2009

There is something about this place, you know?

Die groot Bill Bryson fan wat ek is - my heroes is Bill Bryson, Dana Snyman en Andy Capp - lees ek een middag in sy Down Under oor 'n plek genaamd Broken Hill, kwansuis een van daai plekke waarheen jy gaan vir 'n week vakansie en nooit weer weggaan nie. Baie soos Hangklip.
Op ons laaste toer het my neef my en die waentjie vol kitare afgehaak by Hangklip Hotel sodat hy die dromset en sy girlfriend in Stellenbosch kan gaan haal. Ek, met my langpaddors en kanonbors loop sit toe by die bar in 'n poging om 'n bier te kry. Na 'n paar vrugtelose probeerslae kom ek agter dat mens net moet vra vir 'n koue bier, soos wat buite geadverteer word. Ingenome met my nuutste bevinding word ek voorgestel aan Die Ou Langs My wat dadelik groet met, jy is 'n duiker ne? En weet jy hoe weet ek, want ek was in Die Mag, en jy 'n groot bors. Die middag word toe gevul met lesse in trots, patriotisme, eer en hoe om iemand met die agterkant van jou hand te vermoor. En waar om te druk as die stres te veel raak.
Toe die Man Langs My my later oor sy skouer nooi vir 'n braai oppad uit, raak ek met die kroegman aan die gesels.
My eerste kennismaking met Hangklip was jare terug, toe my jong vader nog gereeld geduik het. Doodgelukkig, met 'n gesig vol sand sou ek heel tevede op die sand speel tot pappa klaar geduik het. Dan sou ons stop by daai ander plek vir 'n kouk vir my en 'n bier vir pappa en dan terugry Gordonsbaai toe om te gaan braai (perlemoen vir die grootmense en 'n alikruk vir my).
Hangklip, vertel die kroegman my, is een van daai plekke waarheen mense gaan vri 'n week of wat en nooit weer weggaan nie. Sy pa het glo vermis geraak en toe spoor hy hom in Hangklip op. Hy het toe so jaar of meer terug by sa pa gaan kuier, en nou is hy nog steeds daar. There is something about this place, you know?
Hy het ook sy girlfriend daar ontmoet, 'n girl genaamd Toni wat een of ander famous singer is. Sy was op daardie stadium in Frankryk by haar mense en hy was, in sy eie woorde, misrable. Maar terselfdetyd ook dolgelukkig oor hy misrable is oor 'n meisie, want dit beteken hy hou van haar.
Laat die middag verskuif ek tot op die gras voor Plankies, en met my kop op 'n kitaarkis le ek met die blou see aan die een kant, en die blou Hangklip aan die anderkant, en daar daal 'n Saterdagmiddag rustigheid oor my neer. Ek dink ek verstaan nou wat hulle bedoel - There is something about this place, you know?

0 comments: