Sunday, March 29, 2009

Twee weke in 'n Broodblik

Ek kon dit nie self sien nie, maar ek glo nie eers die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het genoeg woorde in om my blik van teleurstelling te beskryf toe daardie vriendelike kerel van Imperial vir my 'n Atos gee om mee te ry nie.

Vir bykans 15 maande nou al, is ek 'n trotse eienaar van 'n 2004 Polo, beter bekend as Die Sneeuleeu. Alhoewel hy spoedboetes inryg soos sosaties, is Die Sneeleeu is 'n wonderlike voertuig. Hy kan byvoorbeeld Piekenierskloof oorry in 5de rat. Hy kan ook 'n hele band en een girlfriend, met 'n sleepwa vol kitare, tot binne-in Dronkwordspruit en terug bring, sonder enige moeite. Hy gebruik nie baie diesel nie, en sy draadloos werk. Alles wat mens van 'n kar verwag.

Toe, een middag, is ek en die sneeuleeu in 'n onderonsie gewikkel met die kar voor ons, waarin die Sneeuleeu sy neus breek, en gevolglik geopereer moet word. Reconstructive surgery.

Al genade is toe om 'n voertuig te huur, vir die tyd wat ek karloos in Idasvallei is (met gedeeltelike apologie aan Klopjag). Vaandaar die Atos.

Kyk, 'n Polo is nie die grootste kar in die wereld nie, maar jy moet toegee, daar is plek vir al my ledemate en die meeste van my kitare, en mens kan iemand nog saamry ook as jy sou wou. Die Atos daarenteen...

Die Atos het die sogenaamde "high boy" ontwerp. Mens kan as't ware met 'n keil op joukop sit in die kar maar, vir 'n voormalige Boland swemmer soos ek, is daar nie plek vir beide skouers in die kar nie. Ek is dus genoop om die ruite oop te draai sodat my arms buite die kar kan wees. Ek moet dan seker maak my arms steek weerskante ewe ver uit, anders draai die kar.

Volgens die internet het die kar 'n 1100 enjin iewers onder die kap. By nadere ondersoek sou ek vasstel dat dit nie 'n enjin is nie, maar 'n eend wat paddle. So ry ek eendag in die somerhitte stad toe, en sit ewe dankbaar die air con aan. Ek dog eers ek het in iets vasgery, soos wat daai Atos agteruit ruk. Ek kon toe agter dat ek wel nog vorentoe ry, maar net heelwat stadiger. En die eend het ook heelwat gees verloor, want ek kon niks vinniger as 80 nie. Ek kyk toe om om te sien of ek nie dalk iets gehaak het nie, en maak toe seker dis nie dalk die handrem nie.Uiteindelik kom ek agter Dit kos my toe weer die aircon afsit, want as ek hom aan gelos het, was ek waarskynlik nog steeds oppad stad toe.

Die Swart Suidoos van nou die dag, het daardie karretjie laat wapper. Ten spyte van my beste pogings kon ek nie daai lawwe karretjie in een baan hou nie. Op die ou end was al manier om in die regterbaan te ry, en dan as die wind my oor die pad waai, net bitter vinnig die flikkerlig aan dit sit en te hoop die mense gee pad.

Dit is alles erg, maar die ergste was toe my kollega Victor vir my se:" Eh, mfowetu, why you driving this car? This car is for mamas..."

0 comments: