Monday, March 30, 2009

Mense verskil mos maar

Ek het destyds, toe ek nog geswot (my ma wou moerse graag gehad het ek moet 'n dokter of 'n ding word, so nou is ek 'n ding), 'n vreeslike cool meisie gehad. Sy was vreeslik vooruitstrewend, en met die mooiste oe. Haar pa het geboer in die Boesmanland, en ek het my wintervakansies daar deurgebring, en die somervakansies by hulle huis in Kleinmond.

Soos enige verhouding, is alles nie maanskyn en rose nie. Sy het byvoorbeeld daarop aangedring dat ek skoene aantrek na danse toe, en dat ek my voete was voor ek gaan slaap, al was hulle nie vuil nie.

Een jaar, toe ek en my maatjies al in die Senaat ('n weelderige deel van Simonsberg, vir senior studente) gebly het, kom sy op Aristea se HK. En Aristea se HK moet alles self doen. Dis nie soos Simonsberg waar jy die blougatte kan laat vlot bou en kortkort een stuur om 'n dop te gaan gooi nie. Saam met dit word HK's gedwing om met ander HK's te skakel tot ounag toe.

Ek, aan die ander kant, is gedwing om heeldag te braai en te kuier, om die blougatte jaloers te maak. Want ons is mos die manne, sien?

Die probleem met heeldag kuier is dat mens so half voeling verloor met tyd en watse dag dit is. Dit voel later alles soos dieselfde dag, of alles na 'n ander dag. En dan, op 'n gegewe oomblik, onthou mens dat jy nog 'n girlfriend het. En jy verlang. En aangesien jy nou al vir dae (weke, maande, wie weet) bele in die wyn- en vleisbedryf kan jy nie bel nie. Dan gaan soek jy haar.

Ek kon my geluk nie glo toe ek haar reg agter Simonsberg kry nie. Imagine dit. Mens gaan op reis om goud te soek, en kry dit reg langs jou tuinhekkie.

Wat ek nie besef het nie, is dat ek haar reeds die middag gesien het nie, en dat sy oppad is na 'n skakeling met Simonsberg se HK was. Ek kon dus nie verstaan wat haar storie dan nou is nie. Ek verlang mos, en ek is after all haar boyfriend.

Nodeloos om te se breek daar toe so effense skermutseling uit. Na ons mekaar effens sleg gese het, en ek haar hand en mond belowe het ek gaan haar goed breek as sy nie ophou om met my lelik te wees nie ons uit mekaar uit. 'n Skamele twee glase wyn verder het ek van die storie vergeet. Ek was nog altyd te lui om 'n wrok te koester.

Laat die nag, besluit sy maar sy het my vergewe. Ek glo sy het besef dat my verlange dalk eg was. En sy besluit om by my te kom kuier. Ek het egter reeds bedwaarts gekeer. Ek bedoel op die gevorderde ouderdom van 23 kan mens nie meer al daai party vat nie. Jy is immers nie meer tweedejaar nie.

Met 'n hart vol liefde kom klim sy in my bed, waar ek die slaap van die dooies le en slaap. En toe sy my uiteindelik wakker kry, is al wat sy uit my uit kry, nee ek kan nie met jou vry nie, waar is my girlfriend? gaan roep my girlfriend.

Sy was vir my bitterlik de moer in oor ek haar nie herken as ek onder die invloed is nie. Ek het gedink sy behoort bitter bly wees oor ek nie sommer met enige chick wat in my bed klim probeer vry nie.

Maar nou ja, so verskil mense...

0 comments: