Sunday, March 29, 2009

Maar toe skep hy

Soos die Du Toit's van die Agter-Paarl, die Du Preez's van Patensie en die Giliomee's van Protem kry mens ook die gedugte Steyns van Darling. Die Steyn-familienaam is Gabriel, gevolglik is almal daar Gawie of Riel, en gewoonlik gaan dit saam met een of ander verwysing, soos die plaasnaam (Gawie Grootkraal) of een of ander gebeurtenis Gawie Basaar, of in die geval, 'n liggaamlike gebrek, Gawie Tet en Gawie One-eye.
As my pa ooit op Spies en Plessis of Maak 'n Las of iets kom, is hierdie die storie wat hy gaan vertel. Hy het dit by Oom Riel Steyn, wat by ons op die plaas gewerk het gehoor, en Oom Riel en die Gawies is bloedneefs.
Oom Gawie Tet (so genoem oor die moesie op sy voorkop) en Oom Gawie One-Eye was groot WP-ondersteuners, en het al vir baie jare seisoenkaartjies op Nuweland, halfpad teen die Spoorwegpaviljoen op, min of meer op die 10-tree, Jan Pickard se kant.
Die enigste ding wat hulle liefde vir rugby kan ewenaar is moontlik hulle liefde vir KWV 5-jaar. Elke ekskursie Kaap toe gewoonlik gepaard met so bottel of wat KWV.
Een middag na WP ry Tet en One-eye terug Darling toe, man-man 'n blikbeker met KWV. Net anderkant die Melkbosafdraai op die Weskuspad staan 'n Datsun 1200 met 'n oop bonnet langs die pad. Die Gawies trek af en vra vir die kerel, Ou Van, is hier fout?
Nee Oom, se die mannetjie, smaak my ek het 'n gasket geblaas. Kan Oom-hulle my nie sleep tot by die Yzerfontein afdraai nie?
Nee maar dis reg, jy kan maar vasmaak, maar se my ou Van, skep jy?
Nee, Oom, ek gebruik nie sterk drank nie, kom die heiliige woorde.
So sit Tet en One-eye en skep voor die Ranchero en die laaitie laat later met die toeter weet, hy is reg om te ry.
Sit so Oom Gawie Tet agter die stuur en Oom Gawie One-eye skink en hulle bespreek die game. Hier is my pa so half vaag op die details, maar hoe dit ookal sy, so 20 km voor die Darling afdraai, kom Oom Gawie One-eye agter, hier sit 'n man op hulle gat, en dit nogal met 'n Datsuntjie.
Maar wag, se Oom Gawie Tet, ek gaan hom nou wys, ek gaat hom nou wys. EN met die trap hy die vet dieper in, en vat sommer vir good measure 'n diep sluk uit die pluk beker.
En so skep hulle.
Na 'n rukkie kyk Oom Gawie One-eye weer om en se, nee wat ou Van, die Datsuntjie sit nog. Stoot aan jong. En Oom Gawie Tet trap hom nog bietjie dieper in, vat 'n diep sluk en gee sy beker vir Oom Gawie One-eye aan.
De, hou vas ou Van, nou gaan ons ja.
En kort-kort as een omkyk, dan sal hulle se, nee wat ou Van, hy sit nog, jy sal maar nog moet aanstoot.
Die storie eindig dan waar Oom Gawie Tet die Darling afdraai teen 'n moerse spoed vat en Oom Gawie One-Eye omkyk en sien hoe die Datsuntjie deur die bossie aangeswaai kom, gewoonlik met die gepaste handgebare van my pa en uitroepe van ongeloof deur mense wat die storie vir die eerste keer hoor.
Nou kom die klong, asvaal van die stof, na die Ranchero aangestap, en die eerste ding wat Oom Gawie One-eye hom vra is, Ou Van, skep jy?
Hulle se, maar toe skep hy!!

0 comments: