Ek was kinderlik gelukkig toe Patience Maandagoggend haar nommer hier kom los het.
2008 was rerig 'n moeilike jaar vir my. Ek en my bra Franna het in 'n kothuis in Idasvallei ingetrek. Aan die begin was alles cool. Patience het ons huis kom skoonmaak elke nou en dan, en my niggie Lani het een keer 'n maand ons koskaste vol geshop met my kaart. Franna het toe nog op 'n wynplaas gewerk, so die wyn was volop, en diesel was teen 'n redelike billike prys beskikbaar. Hierdie hemel het teen Paasnaweek begin verbrokkel.
Die eerste insident was toe ek Paassondag, vetgevoer deur my moeder, by my huis aankom. Die oopgebreekte veiligheidshek het die malvapoeding vlak in my keel laat sit. Terwyl ek vir die polisie sit en wag het, het ek die lys van vermiste goedere begin saamstel. Franna se R99 toolbox, my soundcard, my Belgiese tjoklit, my hamer, twee halwe bottels sjampoe, 'n halwe pakkie suiker, wat ookal oor was van die Ricoffee, die eensame Black Label in die yskas, die kookvleis en my Banjo. My vermoede is sterk dat dit 'n vuil, honger klops wat bietjie DIY wou doen was.
Die week daarna is ons in Sunset Studios om Die Magtige Dreuning te record. Donderdag in die nanag, na 'n lang dag in die studio, en 'n noodrehearsel by Charl, kom ek moeg en vuil by die huis aan. Al wat ek wou doen is om koffie te drink, te stort en dan in myself aan die slaap te ween in my bed. Moedeloos moeg se ek jou. Ek sit toe die ketel een, stroop my klere van my lyf af en draai die stortkraan oop. Geen water. Dis normaalweg nie 'n probleem nie. Ons het 'n tenk agter die huis wat veronderstel is om outomaties volgepomp te word, maar daai computertjie werk lankal nie meer nie. Ek stap toe om die huis om die tenk vol te pomp en onderneem om vir Franna teen sy kop te bliksem oor hy nie die tenk die middag al volgepomp het nie. Amper by die tenk struikel ek oor 'n stuk pyp en val met my gesig in 'n hoop polistireen balletjies. By nadere ondersoek sou ek vasstel dat my geyser gesteel is. Waar ek aanvanklik net 'n ligte geween beplan het, was 'n volslae weeklaag hier meer gepas.
Die volgende terugslag was toe my niggie Lani Natal toe verhuis het. Waar ons voorheen kos in die huis gehad het, moes ons toe van self begin shopping doen. Ek haat winkels. Ek wil net instap, kitaarsnare koop en loop. Ek haat die om op Saterdae op en af in die Pick en Pay te drentel en te wonder wat om te koop. Ek haat al die mense met hulle goue skoene wat voor die pastarak staan en staar, en ek haat die lang wag by die till. Kort voor lank was hier nie meer kos in die huis nie. Ons het maar geleef van vis en chips wat ons by die Porra op die hoek gekoop het, en two minute noodles.
Kort daarna het Patience teruggegaan om te gaan stem in Zimbabwe, en dit was laaste sien van blikkantien. Ek en Franna het moedig geveg teen Die Vuil, maar die oormag was sterk. Aanvanklik was dit net die kombuis. Ons kon by tye nie die yskas oopmaak nie, bloot oor ons bang was vir dit wat dalk daar in mag lewe. Stadig maar seker het ons veld begin verloor in die badkamer ook. Plaaswater vlek mos, kort voor lank kon ons nie meer die teels wit kry nie. Teen die einde van laasjaar kon mens dit nie alleen in die huis waag nie. Daar was 'n mier metropool wat besig was om alles te eet. HUlle sou jou in jou slaap wegdra. En hulle is imuun teen Antrap.
En toe word dit winter. Die plek waar ons woon blyk toe 'n moeras te wees. My buurman Gustav moes my menige male kom uitkatrol met sy Prado. In die middel van die winter het 'n paar keer my Polo in rat gesit en hom gestoot tot by die hek, en dan kom stort voor ek gaan werk het. Ek het lank geglo dat ons deur een of ander swart gat geval het en eintlik in die Okavango moeras bly. Dit was so nat dat die water op die afdraende begin staan het.
Die kothuis se water werk met so drukpompie. Gevolglik, as die krag af is, is hier nie water nie. En met al Eskom se sports, moes ek verby die yskas sluip, my kar uit die modder stoot, en by my vriendin Wors, of soms Doret gaan stort. En hulle haat modder.
Saam met dit alles moes ek deal met Eskom, die verkeer, warm wyn, wispelturige vroumense en Julius Malema.
Van Kersfees af het ons water skoongeword, die grond het uitgedroog. Patience het Vrydag al die miere hier uitgelok met 'n pakkie sweets en vrou-alleen die plek skoongekry (ons teels is toe al die tyd wit, sien ek). My niggie Lani soek werk in die Kaap, so miskien keer alles terug na normaal in die nabye toekoms.
But then again, dis nog nie Paasnaweek nie.
Monday, March 30, 2009
2008
Posted by Nicol du Toit at 9:31 AM
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
0 comments:
Post a Comment