Sunday, March 29, 2009

My lydensuur

Ek is nou op daai ouderdom waar ek my boesempelle een vir een aan Die Huwelik afstaan. Ek le snags wakker oor die moontlikheid dat hulle gaan begin kinders kry wat my kitare gaan bespoeg, gaan nies op my matte en my arme hond terroriseer. Ek bied darem altyd aan om peetpa te wees. Hopelik jaag die gedagte aan my wat peetpa is hulle genoeg skrik op die lyf om eers bietjie "te wag".

Die vakansie, so kort voor Krismis, kom my vrind JW toe tot 'n val. Ek moet erken, ek het tot voor hy, "Ja dominee" gese het nog hoop gehad, maar het toe besef hoop is min. Troppe kinders in my huis is my voorland.

Die aand by die onthaal - wat heerlik was terloops, ek het niks teen troues nie, dis net Die Huwelik wat my so skrik op die lyf jaag - tussen al die kapperjolle en gefuif deur, kry ek 'n asma-aanval soos lanklaas in my lewe. Of dit nou 'n vreemde boom, 'n miskien iets in die kos, of reaksie op die vrees was, is ek nie meer seker nie, maar my bors het gefluit soos 'n goederetrein.

Die verantwoordelike mens wat ek soms is, het ek my neef gevra hom my na en van die onthaal te karwei, want ek het soms 'n ander reaksie by troues, naamlik dat ek sukkel om te sien. En so is my liefling neef weg met my kar, waarin my asmapomp is, heeltemal onwetend dat ek later die aand by die dood sal omdraai.

Na ons vir JW met watergewere, streamers en ander grillerige goed geskiet het, en na hy die kousband onder Ruannette se rok uitgegrou het, word ek bewus van die beklemming op my bors. En stelselmatig hoor ek die goederetrein se fluit aankom, en hoe nader die trein kom, hoe minder fut het ek in my lyf oor. Op 'n kol besef ek net, dat die wilde gedansery my nie baie ver gaan bring nie, en ek gaan sit kruisbeen op die dansvloer. Soos 'n blinde bedelaar (sonder asem) vra ek toe elke dansende couple of hulle nie miskien 'n pompie het nie. Ek weet nou presies hoe bedelaars voel as mens net jou kop so skud. Ek gee sedertdien vir hulle almal geld.

Intussen, begin ek kolletjies sien, en die goederetrein se fluit begin al meer na 'n eindfluitjie klink. Ek was al besig my aardse besittings te begin sorteer en om my testament per sms te tik om al die erfgename in kennis te stel (my sussie kry my cds, my neef my kitare, en my broer die res, hy moet net sorg vir wyn by die begrafnis, ek soek 'n Ierse wake), toe kom daar 'n dame na my toe aangewals.

Of dit engel was, of een van die strooimeisies, of die bruid, dit weet ek nie. Op daardie stadium van my lydensuur, kon ek nog net kleure onderskei, en die wit rok is al wat ek kon uitmaak. Sy het my onder my elmboog gesteun en uitgelei na 'n verafgelee disco, wat toe by nadere ondersoek 'n ambulans blyk te wees.

So sit ek toe, halfpad deur my bra JW se troue, in 'n ambulans, met 'n suurstofmasker op my gesig. My vriendin Rene se nuwe boyfriend het darem so keer of wat kom kyk of ek al beter is. Die kolletjies het later stuk-stuk verdwyn en die skeidsregter is op die ou end weg met die goederetrein.

Toe ek daar bykom, kon jy my nie met 'n plank platslaan nie. Hulle se mos, dans asof daar geen more is nie.

Post Scriptum: Ten spyte van die sinisme waarmee ek die huwelik bejeen, wens ek my bra JW sy nuwe vrou, Ruannette, die beste wense vir die toekoms toe. Ek ken julle al jare, en nie eers 'n WP oorwinning maak my so gelukkig soos die feit dat julle die knoop deurgehaak het nie. Julle kinders kan enige tyd op my mat kom nies.

0 comments: